News

Warm speeltoerusting dié somer: Waarom ouers versigtig moet wees

’n Rondomtalie wat soggens in die skadu staan, kan teen middagete te warm wees vir kaal voete.

’n Metaalglyplank of rondomtalie wat in die son staan, kan warm genoeg word om ’n kind te brand.

’n Onlangse voorval by ’n plaaslike restaurant in die Vaaldriehoek plaas die kollig op dié risiko.

Aangesien El Niño warmer weertoestande meebring wat tot in 2027 ervaar sal word, is dit noodsaaklik dat mense meer ingestel is op die uitwerking daarvan op alle terreine van die samelewing.

Ter illustrasie. ’n Seuntjie speel kaalvoet op ’n rondomtalie laatmiddag. Metaaloppervlakke kan in direkte sonlig warm genoeg word om kaal voete te brand. Foto: Christiaan Cloete

’n Ma het aan Vaalweekblad vertel dat haar seuntjie ‘n groot blaas onder sy voet gebrand het toe hy op ‘n rondomtalie wou speel.

Die eienaar van die restaurant het die gesin gekontak toe hy van die voorval bewus geword het.

Die restaurant het daarna die metaaloppervlak met kunsgras bedek om te keer dat kinders se voete aan die warm metaal blootgestel word.

Die ma het gesê sy was tevrede met die stappe wat die restaurant na die voorval gedoen het.

Volgens die eienaar dui ’n kennisgewing by die speelarea aan dat kinders jonger as sewe dit slegs onder toesig mag gebruik.

Hy sê jong kinders kan nie altyd self die kennisgewings lees nie.

’n Metaalglyplank of rondomtalie wat in die son staan, kan warm genoeg word om ’n kind te brand.

Die Federasie van Beheerliggame van SuidAfrikaanse Skole beveel in sy riglyne vir skole aan dat speeltoerusting wat in die oopte staan, van skadu voorsien word om brandwonde en sonbrand te help voorkom.

Die federasie beveel ook aan dat speelareas só ingerig word dat volwassenes maklik toesig kan hou.

Ouers kan veral let op speeltoerusting waar kinders met kaal hande, bene of voete raak, soos die sitplek en voetgedeelte van ’n rondomtalie of die oppervlak van ’n glyplank.

Hou ook in gedagte dat ’n glyplank/rondomtalie wat soggens in die skadu is, teen middagete in die direkte son kan wees.

’n Blaas het onder die peuter se voet gevorm nadat hy op die warm metaal van ’n rondomtalie getrap het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button