MotoringSportSportSport

Verlamde Valie steeds ‘n inspirasie

VANDERBIJLPARK. – Op 17 September 1989 het die ondenkbare met die 27-jarige Steyn Delaray Humphries gebeur, toe ‘n fratsongeluk by die Hlobane steenkoolmyn hom verlam gelaat het. Maar opgee bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy het na sy rehabilitasie voortgegaan om paralimpiese wêreldrekords in diskus, spiesgooi en gewigstoot op te stel. Dit is egter …

VANDERBIJLPARK. – Op 17 September 1989 het die ondenkbare met die 27-jarige Steyn Delaray Humphries gebeur, toe ‘n fratsongeluk by die Hlobane steenkoolmyn hom verlam gelaat het. Maar opgee bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy het na sy rehabilitasie voortgegaan om paralimpiese wêreldrekords in diskus, spiesgooi en gewigstoot op te stel. Dit is egter nie al nie. Tydens die Paralimpiese Spele in 1996 in Atlanta in die VSA, het hy ‘n gouemedalje in diskus, silwer- in gewigstoot en brons- in spiesgooi verwerf. Hoewel sy atletiekloopbaan met hoogtepunte deurspek is, sal die herinnering hom altyd bybly toe hy die paralimpiese wêreld-diskusrekord die eerste keer in die Baai – boonop met die wind van voor – opgestel het. Maar deesdae as pensioenaris, vat hy dinge rustiger. Hy doen ‘n bietjie hout- en staalwerk in sy vrye tyd, maar wanneer sy geliefde Sharks op die veld draf, is dit tyd vir biltong en braaivleis. Vandag, op 58-jarige ouderdom sal hy vergewe word as hy ‘n bietjie nostalgies raak. “Na my ongeluk toe ek ‘n parapleeg geword het, het ‘n mede-pasiënt, Leon Labuschagne, my vertel van sport vir gestremdes. Met die jare het ons mekaar aangemoedig om bo uit te kom,” vertel hy. Wanneer hy gepols word oor sy welslae, word sy vrou Milly (62) wat hom al 36 jaar getrou bystaan, sy dogters Lilian (36), Desere (32) en stiefseuns Eugene (43) en Shaun (42) vir hulle onvoorwaardelike ondersteuning uitgesonder. “Ek moes myself na die ongeluk vinnig regkry om by die nuwe lewenstandaarde en uitdagings aan te pas. Ek was in die fleur van my lewe. My vrou, kinders en familie het my aanvaar soos ek is. Niemand het op my neergekyk omdat ek in ‘n rolstoel was nie, bieg hy. “Ek verlang heelwat na my atletiekdae. Die voorbereiding, tyd en energie wat mens ingesit het om die kruin te bereik, asook die vriendskap wat mens deur die jare opgebou het,” vertel hy. Met sy afrigter en mentor in die gimnasium, Vick Delport, wat ook ‘n kwadrupleeg is, aan sy sy het Steyn in 1996, 1998 en 1999 nasionale kleure verwerf. Behalwe vir sy vernuf op die atletiekveld was hy in sy jonger dae ook ‘n bedrewe rugbyspeler. “Na skool was rugby my passie, tot ‘n kniebesering dit beëindig het. Van 1997 was gholf my groot liefde. Dit was vir my ‘n ‘challenge’ om uit my rolstoel te speel, maar ek het elke minuut daarvan geniet, totdat ‘n nekoperasie in 2016 my gholf op ‘hold’ gesit het.” Sy boodskap aan ander gestremdes is eenvoudig. “Daar is dae wat ek ook sê ‘that’s it’, maar na so ‘n paar ure van moedskep, durf mens weer die pad aan. Wat my aanspoor is dat daar baie mense is wat in’n slegter posisie is as ek. Mens moet die beste van jou situasie maak. Dit wat verby is, kan niemand terugkry nie, maar die pad vorentoe is wat jy daarvan maak.” Wat sy insluiting in die nuwe Vaal Legendes Sportmuseum betref, is hy vol lof vir die stigters Theuns Eloff en Piet Brand. “Ek haal my hoed af vir hulle wat die moeite en tyd inboet om erkenning aan ou sporthelde te gee. Vir my is dit ‘n groot eer om deel daarvan te wees,” sluit hy af.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button