MotoringSportSportSport

Oud-Hoekie is Bekker Staal se nuwe yster

VANDERBIJLPARK. – Daar is ‘n gesegde wat lui: “As dit pap reën, moet jy skep.” Dit is presies wat die 30-jarige Rudolf Naudé gedoen het toe die geleentheid hom onlangs voorgedoen het om vir die plaaslike fietsryspan, Bekker Staal, een van die top veteraan fietsryspanne in die land te ry. Naudé wat een van die …

VANDERBIJLPARK. – Daar is ‘n gesegde wat lui: “As dit pap reën, moet jy skep.” Dit is presies wat die 30-jarige Rudolf Naudé gedoen het toe die geleentheid hom onlangs voorgedoen het om vir die plaaslike fietsryspan, Bekker Staal, een van die top veteraan fietsryspanne in die land te ry. Naudé wat een van die top driekampatlete in Suid-Afrika is, het weens die skaarste aan driekampbyeenkomste nie vir ‘n oomblik gehuiwer om die geleentheid aan te gryp nie.

Rudolf Naudé (30) glimlag breed nadat hy ingestem het om vanjaar sy fiets se speke vir die plaaslike veteraan fietsryspan, Bekker Staal, te laat sing.

“My broer Ruan ry ook tans vir dié span en het gevra of ek sou belangstel om vanjaar vir hulle te ry. Ek kon nie vir so ‘n geleentheid nee sê nie. Met Covid-19 is die driekampbyeenkomste baie skaars. Verlede jaar het ek minder as 10 keer deelgeneem. “Dit is moeilik om gefokus te bly en te bly oefen as daar nie byeenkomste is nie. ‘n Mens oefen en probeer nuwe programme en tegnieke, maar jy weet nie of dit werk nie. Dit was vir my die grootste probleem, veral omdat ek aan die einde van 2019 van afrigter verander het. Verlede jaar kon ons dus nie werklik sien hoe die nuwe program vir my werk nie,” gee hy te kenne. Hy is tans die hoofafrigter van die Tuks Sportskool se driekampspan en bly fiks deur saam met sy span te oefen wanneer sy roetine en werkslading dit toelaat. “Ons motiveer mekaar en hou mini-wedrenne tydens oefeninge net om dit meer pret te maak. Ons kan sodoende ook ons vordering meet en ons oefenprogramme beproef.” Volgens dié gebore en getoë Vaaldriehoeker was die oorskakeling vir hom maklik, aangesien hy die meeste van fietsry in driekamp gehou het. “Om nou ‘n bietjie meer op fietsry te fokus, gaan vir my lekker wees. Ek doen nou al 14 jaar driekamp, so om dinge bietjie te verander sal lekker wees, veral na die jaar wat ons almal agter die rug het. “Ek gaan nog steeds aan driekamp deelneem, maar omdat die byeenkomste ‘n bietjie skaars is, is daar meer tyd om fiets te ry. Gelukkig komplementeer die sportsoorte mekaar, so as ek sterker word in die een, sal dit help vir die ander een,” verduidelik hy. Hoewel Covid-19 sy planne vir 2021 deurmekaar gekrap het, was daar darem ook ‘n silwerrandjie om die donker wolk. Hy is onlangs as die hoofafrigter van die driekampklub, Trifactri, een van die grootste driekampklubs in die land, aangestel. “Ek is verantwoordelik om die klub in Pretoria te laat groei. So ek is gelukkig dat ek heelwat vooruitsigte het. Gelukkig verstaan my borge wat in die wêreld aangaan en besef hulle dat ‘n mens se gesondheid belangriker as publisiteit is. “Ek het gelukkig nie borge verloor nie. Omdat ek nie in kompetisies vir my borge blootstelling kan gee nie, het ek ander maniere gevind en myself beskikbaar gestel vir enige promosie- en advertensiewerk wat hulle verlang,” sê die oudleerling van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button