Vaal se medalje-oes
VANDERBIJLPARK. – Een goud, een silwer en ‘n bronsmedalje. Dit is hoe die Vaaldriehoek se medalje-oes daarna uitsien nadat die Valies Alan Cumming, Tshepang Makhethe en Marioné Fourie die 22ste CAA Afrika Senior Kampioenskap in Mauritius soos ‘n tropiese storm getref het. Suid-Afrika het tweede geëindig met 36 medaljes (9 goud, 13 silwer en 14 …
VANDERBIJLPARK. – Een goud, een silwer en ‘n bronsmedalje.
Dit is hoe die Vaaldriehoek se medalje-oes daarna uitsien nadat die Valies Alan Cumming, Tshepang Makhethe en Marioné Fourie die 22ste CAA Afrika Senior Kampioenskap in Mauritius soos ‘n tropiese storm getref het.
Suid-Afrika het tweede geëindig met 36 medaljes (9 goud, 13 silwer en 14 brons). Kenia het eerste geëindig met 23 medaljes in totaal waarvan 10 goud is. Dit was Suid-Afrika se be

ste vertoning by die Afrika Kampioenskap sedert 1993.
Cumming, ‘n onderwyser aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, het sy landgenoot en mede-valie, Makhethe se droom verpletter toe hy met sy laaste gooi van 69.03m die Afrika-titel voor sy neus weggeraap het.
Die 26-jarige Sasolburger wat in 2019 die eerste swart atleet geword het om die SA-hamergooi-titel te verower, moes met ‘n gooi van 68.75m met die silwermedalje tevrede wees. Alan word tans deur Chris Harmse afgerig. Harmse se heerskappy van 23 jaar as SA-kampioen is in 2019 in Germiston deur die einste Makhethe met ‘n puik poging van 72.25m beëindig.

Die tweemanskap (Cumming en Makhethe) sal waarskynlik nie vir die Wêreldkampioenskap kwalifiseer nie. Die kwalifiserende afstand is 77.50m en daar lê nog baie harde werk voor as hulle vir die Olimpiese Spele wat in 2024 in Parys in Frankryk gehou word, wil kwalifiseer.

Die roos tussen die dorings, Marioné Fourie, ‘n oudleerling van die Hoërskool Driehoek en huidige SA-hekkieskampioen, het ‘n bronsmedalje in 100m-hekkies verower nadat sy in ‘n spogtyd van 12.82s oor die wenstreep genael het. Die ander Valies wat aan die kampioenskap in die hamergooi deelgeneem het, Marga Cumming en Marinda Greyling, het onderskeidelik vyfde en negende geëindig.

