Photo GalleriesSportSportSport

Springbok nr. 922 ons eie Elrigh

VANDERBIJLPARK. – Sy liefde vir die spel met die ovaalbal het as ‘n klein kannetjie op Loftus Versfeld begin waar hy en sy pa gereeld wedstryde bygewoon het. Dit was dus soos ‘n profetiese vervulling dat hy juis op die einste Heiligdom van Blou Bul-rugby op 2 Julie vanjaar sy toetsdebuut vir die Springbokke teen …

VANDERBIJLPARK. – Sy liefde vir die spel met die ovaalbal het as ‘n klein kannetjie op Loftus Versfeld begin waar hy en sy pa gereeld wedstryde bygewoon het. Dit was dus soos ‘n profetiese vervulling dat hy juis op die einste Heiligdom van Blou Bul-rugby op 2 Julie vanjaar sy toetsdebuut vir die Springbokke teen Wallis gemaak het.
Volgens die 22-jarige Vaaldriehoeker, Elrigh Louw, het daar heelwat sandkorrels deur die uurglas geloop voordat die omvang van sy prestasie werklik by hom ingesink het.
“Ek moet sê dit het ‘n rukkie gevat vir my om te besef wat gebeur het. Dit is ongelooflik om te dink dat ek een van net 922 spelers is wat al ooit die voorreg gehad het om die Springboktrui aan te trek.
“Ek het altyd daaroor gedroom en hard gewerk daarvoor en ek het geglo ek sou eendag ‘n Springbok wees, maar mens kon eintlik nooit werklik dink dat dit sou gebeur nie,” bieg hy.


Elrigh wat aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer het, het reeds op skool baie potensiaal getoon.
Hy het in 2017 die Valke by die Cranven Week verteenwoordig, waarna hy by die Vrystaat-Cheetahs sy heil gevind het. Dit is ook in Bloemfontein waar hy in 2019 sy junior Springbokkleure vir SA o.20-span verwerf het.
Hy het daarna ‘n kortstondige draai by die Kings in die Baai gemaak om sy senior loopbaan te lanseer. Met die likwidasie van die Kings in 2020 is hy deur die Bulle opgeraap. Volgens Elrigh het hy van sy skooldae af ‘n agent gehad, maar dinge het werklik vir hom begin gebeur toe hy in 2019 na International Player Management oorgeskuif het om sy belange te behartig.
“Ek dink ek was nog altyd dieselfde speler, maar ek dink toe ek Bulle toe gegaan het, het dinge verander. Duane Vermeulen het my onder sy vlerk geneem en my mooi touwys gemaak. Die opset daar en die afrigting het my spel baie verbeter en verfyn.
Hy (Duane) is ‘n baie goeie vriend en ‘n rolmodel vir my.”
Louw was een van die staatmakers in die Ligbloues se Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog en het verdien om die Groen en Goud vanjaar oor sy kop te trek. Goeie nuus vir Ligblou-ondersteuners is dat hy tot 2027 by die Blou Bul-rugbyunie gekontrakteer is.
“Tot dan (2027) wil ek aanhou goeie rugby speel. My mikpunt is die wêreldbeker,” vertel hy.
Elrigh het vinnig van grootoog bewonderaar tot rolmodel ontwikkel, maar van grootkop kry is daar nie sprake nie. Daarvoor sorg sy pa Dawid.
“My pa het ook nog altyd vir my raad gegee en gehelp. Ek was al paar keer dikbek, want hy het nie net vir my gesê as ek goed speel nie, maar ook reggehelp as ek swakker ‘games’ gehad het. Sonder my ouers en my Ouma Ann sou die (sy rugbyloopbaan) nie moontlik gewees het nie,” bieg hy.
Hoewel hy baie nuwe vriende in rugby gemaak het, is hy nie iemand om van sy skoolvriende te vergeet nie.
Sy suksesresep is ook baie eenvoudig. “Ek is ‘n groot ‘believer’ van harde werk. Soos my een kondisionerings-afrigter, Mark Nicholss altyd vir ons tydens oefensessies geskreeu het: “Moenie jouself jammer kry nie.” Daardie woorde dra my vandag nog deur harde tye. Dit is maklik om jouself jammer te kry en verskonings uit te dink as dinge taai raak.”
Daar is voorts ‘n gesegde wat lui dat sukses sukses kweek, maar daar is ook ‘n ander lewenswaarheid dat sodra iemand sukses behaal, staan almal tou om die kollig te deel.
“Ja-nee ek hoor al die stories van die mense wat my “gemaak het”, maar as ek eerlik is dink ek Herman Venske het my aan die einde van my graad 10-jaar as atleet begin brei.
“Toe ek by hom aankom was ek lekker mollig. Hy het gehelp om my vinniger, sterker en meer gekondisioneerd te kry. Dan ook Jaco Kok wat my die geleentheid gegee het om vir Transvalia se eerste span te speel,” vertel hy.
Hoe dit ookal sy, daar lê ‘n blink rugbytoekoms vir Elrigh voor en Vaalweekblad en die Vaaldriehoek hou sy rugbyloopbaan met ‘n trotse valkoog dop.
Vinnige feite oor Elrigh:
Lengte: 1.95m
Gewig: 112kg
Hoërskool: Transvalia
Laerskool: Kollegepark

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button