Dokkies hardloop draaie om die Hoekies
MEYERTON. – Die Dokkies se eerste rugbyspan het Vrydag sy jaarlikse FNB Classic Clash teen die Hoërskool Driehoek oortuigend met 50-3 gewen. Asof die versengende hitte nie genoeg was nie, het die streeptruie die oond op die veld ook gestook om uiteindelik ‘n wegholoorwinning oor die besoekers te behaal. Hoewel dit nog vroeg in die …
MEYERTON. – Die Dokkies se eerste rugbyspan het Vrydag sy jaarlikse FNB Classic Clash teen die Hoërskool Driehoek oortuigend met 50-3 gewen.
Asof die versengende hitte nie genoeg was nie, het die streeptruie die oond op die veld ook gestook om uiteindelik ‘n wegholoorwinning oor die besoekers te behaal. Hoewel dit nog vroeg in die seisoen is, lê daar harde werk vir die Hoekies voor.
Vir die Dokkies voorspel dit net goeie dinge vorentoe. “Ons is baie opgewonde. Die seuns werk baie hard en begin nou ons strukture en spelpatroon te verstaan,” het Jan Labuschagne, hoofafrigter van Dokkies se eerstes na sy span se spogsege gesê.
Die tuisspan het vanuit die staanspoor die pap voorlangs dik aangemaak en twee drieë van rolmaalbewegings binne die eerste 10 minute gaan druk.
Om van eerstefase-besit te gaan druk is altyd ‘n bonus en ‘n reuse terugslag vir jou teenstander se gemoed. Volgens Dirk Pienaar, hulpafrigter van die Hoërskool Dr. Malan se eerste rugbyspan, was die Dokkies honger vir die sege na ‘n nederlaag en ‘n gelykop uitslag.
Francois van Niekerk, die wenspan se kaptein en agsteman, het met voorbeeld gelei en sy driekuns aan drieë het sy span tot nuwe hoogtes aangespoor. “Dit was lekker om weer voor ‘n vol pawiljoen te speel,” sê Pienaar.
Puntemakers: Dr. Malan 50: (23): Drieë: Francois van Niekerk (3), Duhan Rheeder, Dian van den Berg, Dante Morat, Kananelo Mtambo en Ethan Williams. Doelskoppe: Dian vd Berg (4) en Juan Stols. Driehoek 3 (3): Strafdoel: JP Roberts.
