Valia slag Wit Renosters
VANDERBIJLPARK. – Vir die eerste keer in die Hoërskool Transvalia se geskiedenis pryk daar ‘n renosterkop teen sy eerstespan se kleedkamermuur. Trane van blydskap en verligting het Vrydag op en langs langs die hoofveld van Transvalia gevloei toe hy die Wit Renosters van die Hoërskool Nelspruit in ‘n naelbytstryd van formaat met 32-27 in die …

VANDERBIJLPARK. – Vir die eerste keer in die Hoërskool Transvalia se geskiedenis pryk daar ‘n renosterkop teen sy eerstespan se kleedkamermuur.
Trane van blydskap en verligting het Vrydag op en langs langs die hoofveld van Transvalia gevloei toe hy die Wit Renosters van die Hoërskool Nelspruit in ‘n naelbytstryd van formaat met 32-27 in die NWU-reeks geklop het.
Dit is die eerste keer ooit dat Transvalia se eerstes dit kon vermag. “Hierdie wen beteken die wêreld vir ons.
Die spelers het baie karakter gewys. Die trane het geloop toe die eindfluitjie geblaas het,” vertel Lloyd Greeff, hoofafrigter van Transvalia se eerste rugbyspan.
Greeff, ‘n oudleerling en voormalige junior Springbokrugbyspeler, het vanjaar die leisels as hoofafrigter oorgeneeem en hy en AJ le Roux, die skool se nuwe direkteur van rugby, het in ‘n kort tydperk nuwe passie, geesdrif en ywer in die skool se rugby geblaas.
Nie dat Transvalia se rugby in die siekeboeg was nie.
Maar ‘n sege soos hierdie een gaan nog lank herleef word wanneer nog ‘n stuk hardekoolhout op die braaivleisvuur gegooi word.
Nelspruit speel immers in die Beker-afdeling van die gesogte Virsekerbeker en sal met nuwe oë na Valia kyk wat in die plaat-afdeling speel.
Hoewel die rustydtelling met 17-11 in die Laevelders se guns was, was dit nie ‘n getroue weergawe van wat op die veld plaasgevind het nie.
‘n Strafdrie en die gepaardgaande geelkaart wat die tuisspan tot 14 spelers verminder het, het momentum in die besoekers se guns laat skuif.
Na die draaislag het Transvalia met sy losskakel-generaal, Duan du Toit, en sy vuurvreter kaptein en seweflank, Xander Mcneill, verbete teruggeveg.
Du Toit se taktiese skopwerk en sy korrelwerk pale toe het gesorg dat Nelspruit vir elke oortreding ‘n hou met die skopvoetrottang gevat het.
Die ligbloues se linkervleuel, Zintle Motsomai het na sy geelkaart met puik lopies en algemene spel in die tweede helfte opgemaak vir sy blaps.
Valia se tropleier het twee keer in die kragmeting gaan druk.
Sy driekuns aan drieë is deur ‘n omstrede beslissing voor sy neus weggeraap toe daar beslis is dat hy by die kantlyn uitgetrap het.
Met die telling op 32-27 en 20 sekondes in die uurglas oor, was Nelspruit enkele meters weg van Transvalia se doellyn, maar onblusbare veggees en klappertand verdediging het gesorg dat die Nelspruiters op pad huis toe na die eentonige en morbiede gedruis van hulle bus se bande moes luister, terwyl Valia se vreugdevure hoog gebrand het.
“Ons is baie tevrede en opgewonde, maar ons is nog nie waar ons wil wees nie. Daar lê harde werk voor, maar ons sien uit na die rugbytoer wat voorlê,” het Greeff na sy span se spog sege gesê.
Nelspruit se Hennie Skorbinksi het nie op Vaalweekblad se navrae reageer nie.
Die Nellies se puntemakers kon ook nie bvestig word nie.
PUNTEMAKERS: Transvalia 32 (11): Drieë: Xander McNeill (2) en Daniel Grobler. Doelskop: Duan du Toit. Strafdoele: Duan du Toit (5). Nelspruit 27 (17): Nie verskaf nie
