Die koop of werwing van skolerugbyspelers is niks nuuts nie en behoort nie meer mense se wenkbroue te laat lig nie.

Wat wel kommerwekkend is dat ouers bereid is om hulle kinders vir vier jaar in ʼn koshuis sal druk om ʼn Springbokdroom na te jaar.
Wêreldwyd is daar sowat 8.5 miljoen rugbyspelers en Suid-Afrika dra 650 000 tot die totaal by die. Laat die volgende insink.

Slegs 0.01% van hierdie spelers kry die geleentheid om ons geliefde spel met die ovaalbal as ʼn beroep te beoefen. Dit gee mens ʼn 1 uit 10 000 kans om uiteindelik ʼn beroepspeler te word.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. ʼn Kind wat in Grey Kollege op koshuis is, gaan ʼn beter en sterker mens anderkant uitkom, maar is die premie wat jy daarvoor betaal die moeite werd? Doen jy dit om jou spruit as geheel te ontwikkel of is dit net vir sport?

Ek het na die afgelope Noord/Suid Toernooi by Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria weer besef hoe die groot die verskil tussen die skolerugbyreuse en ander skole is.
As die Vaaldriehoek se top rugbyskool op die B-venue van die toernooi speel dan moet jy weet hoed straf die mededinging is.

Ek worstel en stoei al jare met die wete dat stringe Vaaldriehoekse seuns Helpmekaar, Monnas, Garsfontein, Menlopark, Waterkloof en Grey Kollege se eerste rugbyspanne haal.
Dit is ʼn wonderlike prestasie maar daardie talent moes plaaslik gebly het. Ouers laat hulle aan hulle neuse rondlei met beurse. Die nuwe tendens is dat spelers deesdae aan twee sportsoorte moet deelneem om te kwalifiseer.

Vierjaar-beurse is ook skaars. Vir argument onthalwe as skool X R2 miljoen begroot vir rugby gee hulle eerder vir twee spelers in graad 10 beurse. Eerder as om vir een speler ʼn vierjaar-beurs te gee, Dit rek hulle sente en note en sprei hulle vangnette ook wyer. Maar die druk wat met sulke beurse gepaardgaan is enorm.
Al wat gebeur is dat skole nie meer spelers wil ontwikkel nie. Oorlede Piet de Jager het altyd gesê spelers word “gepoach”. Kinders word kroonwild.
HS Stellenberg het vanjaar weer die bye korf met ʼn stok gekap toe hy van die reuse in Suid-Afrikaanse skolerugby geklop het en daarna openlik gesê het hulle ontwikkel eerder as om spelers te koop.

My wens vir 2026 en 2027 is dat ouers in die Vaaldriehoek moet besin. As jou kind goed genoeg is, sal hy raakgesien word. Springbokke soos Elrigh Louw het in die Vaaldriehoek gematrikuleer en met harde werk en toewyding hulle pad na die hoogste sport op die leer oopgekap.

Die hartseer realiteit is dat spelers by die Cravenweek vir die Valke uitdraf met ʼn getenkende kontrak van in ʼn ander unie reeds in sy gatsak. Kom ons hou ons provinsie en ons kinders sterk.
