VEREENIGING – Die Vereeniging Rugbyklub vlieg hoog in die Valke Peregrineliga nadat al drie sy spanne op 27 Junie vir Nigel geklop het.
Die klub se o21-span het die tafel gedek met ‘n wegholoorwinning van 88-0 oor die besoekers.
Thato Mbele is as Speler van die Wedstryd aangewys ná ’n uitstekende vertoning vir die tuisspan.

Die klub se tweedespan wat oorborrel van talent het glad nie die wurggreep verslap nie en met 50-21 geseëvier.
Wandy Motha het met die Speler van die Wedstrydtoekenning weggestap.
Hoewel die besoekers ‘n pluimpie vir hul veggees verdien, het die tuisspan uiteindelik oortuigend met 54-35 koning gekraai.
Nico Peyper is na ‘n reusewedstryd as Speler van die Wedstryd gekroon.
