Die tweede ronde van die 2026 Carling Curriebeker Premierafdeling het nóg opwindende rugby opgelewer, met die Toyota Cheetahs en Sanlam Boland Kavaliers wat hul onoorwonne status behou het. Vier spelers: Prince Nkabinde, Bobby Alexander, Gurswin Wehr en Jayden Bantom – het driekunsse behaal.
In die Curriebeker Eerste Afdeling het die DotSure SWD Eagles Vrydagaand hul eerste titel sedert 2018 ingepalm deur die Valke met 41-21 in George te verslaan. Ná ‘n rustydvoorsprong van 19-14 het die tuisspan die tweede helfte oorheers en ses drieë teen drie gedruk.
Die Cheetahs het Vrydagaand in Bloemfontein met 43-21 teen die Hollywoodbets Sharks XV geseëvier. Ná ‘n rustydtelling van 14-14 het die Vrystaters in die tweede helfte losgetrek. Vleuel Prince Nkabinde het ‘n driekuns aangeteken, terwyl Springbok-skrumskakel Faf de Klerk twee drieë gedruk het. Juan Venter en Daniel Maartens het ook gaan druk.
Die Fidelity ADT Lions het hul eerste oorwinning van die seisoen behaal met ‘n oortuigende 52-29-sege oor die Airlink Pumas op Ellispark. Die Leeus het sewe drieë teen vier gedruk, met Jarod Cairns en Latica Nela wat elk twee keer gaan druk het. Sam Francis was akkuraat met die skopskoen en het ses doelskoppe en ‘n strafdoel bygedra.
Verdedigende kampioen Suzuki Griquas het sterk teruggeslaan ná hul openingsnederlaag deur die Vodacom Bulls XV met 56-26 in Kimberley te klop. Skrumskakel Bobby Alexander het in sy 50ste wedstryd vir Griquas ‘n driekuns behaal, terwyl vleuel Gurswin Wehr ook drie keer gaan druk het. Losskakel George Whitehead was foutloos en het al agt drieë verdoel.
Sondag het die Sanlam Boland Kavaliers hul buurspan, die DHL Stormers XXIII, met 41-3 in Wellington oorrompel. Jayden Bantom was die groot uitblinker met 26 punte danksy drie drieë, vier doelskoppe en ‘n strafdoel. Boland het van die begin af beheer geneem en die Stormers geen kans gegee nie.
Na twee rondes is die Cheetahs boaan die punteleer met 10 punte, gevolg deur die Kavaliers op nege. Die Lions is derde met sewe punte, gevolg deur Griquas (6), Sharks XV (5), Stormers XXIII (4), Pumas (3) en Bulls XV (1).
Die derde ronde skop Vrydag af wanneer Griquas die Cheetahs in Kimberley ontvang. Saterdag speel die Stormers XXIII teen die Sharks XV in Kaapstad, terwyl die Lions die Bulls XV op Ellispark aandurf. Sondag verwelkom die Kavaliers die Pumas in Wellington.
