SportSport

As jy goed genoeg is, is jy oud genoeg

Kolfmeester lei nou Dokkies se krieket.

MEYERTON – Op 19-jarige ouderdom is die meeste jong krieketspelers se aandag daarop gevestig om hul eie drome op die veld na te streef.

Vir Dewald Erasmus het ingryping van ’n hoër gesag sy roete verander. Voor hom lê ’n nuwe hoofstuk uitgestrek: ’n blanko blad wat hy self gaan ink.

Sy aanstelling as Hoërskool Dr. Malan se nuwe direkteur van krieket volg nadat hy self nog onlangs vir die Hoërskool Dr. Malan se krieketspan gespeel het. Nou is hy die man wat die skool se hele krieketprogram moet help vorm.

“Dit is vir my nogal spesiaal om te dink hoe vinnig alles verander het,” sê Erasmus. “Ek was onlangs nog self ’n speler op die veld en nou kry ek die geleentheid om ’n rol te speel in die ontwikkeling van die hele krieketprogram.”

Die jong direkteur erken ruiterlik dat die omvang van sy nuwe verantwoordelikheid hom nie ontgaan nie. “Ek dink enige 19-jarige sal besef dat dit ’n groot verantwoordelikheid is. Vir my het dit egter nie net gevoel soos ’n groot titel nie.

Dit het gevoel soos ’n geleentheid om iets te bou en ’n verskil te maak by ’n skool waarvoor ek baie omgee.” Erasmus het geen illusies oor sy ouderdom nie. “Ek gaan nie voorgee dat ek alles weet nie,” sê hy.

 “Wat ek wel kan sê, is dat ek bereid is om te leer, hard te werk en mense met meer ervaring as ek te gebruik om die program te verbeter.” Sy onlangse ervaring as speler kan egter juis ’n belangrike pyl in sy koker wees.

Hy ken die spelers, verstaan die moderne speler se uitdagings en weet wat dit beteken om self onder druk op die veld te staan.

“Ek dink dit is ook ’n voordeel. Ek ken baie van die spelers persoonlik en ek verstaan hoe hulle dink en wat hulle op die veld ervaar.” Hoewel sy rol verander het, is sy eie speelloopbaan nog lank nie verby nie.

“Ek gaan beslis nog speel. Krieket is ’n groot deel van wie ek is en ek het nog baie ambisie as speler.” Vir Erasmus gaan die nuwe rol uiteindelik oor veel meer as trofeë. Hy wil ’n kultuur bou waarin spelers trots is om die Dr. Malan-kenteken te dra.

“My visie is om ’n krieketprogram te bou wat spelers trots maak om vir Dr. Malan te speel. Ek wil hê ons moet bekend wees vir harde werk, dissipline, goeie karakter en goeie krieket.” En sy boodskap aan die jong spelers is eenvoudig: talent alleen is nie genoeg nie.

“Sukses gaan nie net oor hoe goed jy op ’n goeie dag speel nie, maar oor hoe hard jy werk wanneer niemand kyk nie.” Vir ’n 19-jarige wat pas van spanmaat na direkteur opbeweeg het, is dit ’n groot verantwoordelikheid.

Maar Erasmus glo die belangrikste wedstryd lê dalk nie eers op die telbord nie. “As ons oor vyf jaar ’n sterk stelsel het wat aanhou om goeie spelers en goeie mense te ontwikkel, sal ek weet ons het iets reg gedoen.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button