
Met nog een ligawedstryd oor voor die 2026 Carling Curriebeker Premier Afdeling se uitspeelrondes, is die Suzuki Griekwas en die Toyota Cheetahs reeds as die halfeindstryd-gasheerspanne bevestig, terwyl die stryd om die derde en vierde plekke nog wawyd oop is.
Die verdedigende kampioen, die Griekwas het die Airlink Pumas met 38-14 in Mbombela geklop, terwyl DHL Stormers XXIII hul uitspeeldrome lewendig gehou het met ’n 50-26 sege oor die Vodacom Bulls XV in Pretoria. Die Hollywoodbets Sharks XV en die Fidelity ADT Lions het in Pietermaritzburg met 22-22 gelykop gespeel.
Die Cheetahs het hul plek onder die voorste twee verseker met ’n 33-24-oorwinning oor die Sanlam Boland Kavaliers in Bloemfontein.
Die Griekwas en die Cheetahs het albei ná ses wedstryde 26 punte, met die volgende wedstryde wat sal bepaal wie bo eindig. Die Pumas is derde met 17 punte, gevolg deur die Kavaliers en Stormers XXIII op 16, Lions op 15 en Sharks XV op 13. Bulls XV is laaste met vyf punte.
Die Griekwas het waarskynlik hul beste vertoning van die seisoen teen die Pumas gelewer. Zane Bester het die telling geopen voordat Tiaan Lange ná ’n dryfmaalbeweging oorgeduik het. Dit het gekom nadat Ruwald van der Merwe met ’n geelkaart gestraf.
Lourens Oosthuizen het ná nog ’n sterk lynstaan die Griekwas se derde drie gedruk, waarna Clinton Swart vir die Pumas teruggeantwoord het. George Whitehead se strafdoel het die Griekwas met 24-7 rustyd laat voorloop.
Gurshwin Wehr het die voorsprong ná goeie werk van Bobby Alexander verder gerek, voordat Junior Banda vir die Pumas geantwoord het. Jan-Henning Campher is later met ’n geelkaart gestraf wat na ’n rooikaart opgeskuif is vir ’n gevaarlike skoonmaakaksie. Bester het daarna sy tweede drie gedruk om ’n oortuigende oorwinning af te rond.
Op Loftus Versfeld het Stormers XXIII sewe drieë gedruk om Bulls XV met 50-26 te klop en hul uitspeeldaspirasies ’n hupstoot te gee.
Markus Muller, Kyle Smith, Herman Lubbe, Joel Leotlela en Vernon Paulo het voor rustyd gedruk om die besoekers met 33-7 te laat voorloop. Leotlela het ná rustyd sy tweede drie gedruk nadat Abongile Nonkontwana met ’n geelkaart gestraf is.
Die Bulls het deur Demitre Erasmus, Jon Hobson en Kebotile Maake teruggeveg, terwyl Smith 20 punte aangeteken en Eric Basson na ’n dryfmaal agter die doellyn gaan kuier het.
Die kragmeting tussen die Sharks XV en die Lions het ’n dramatiese 22-22-gelykopuitslag opgelewer. Ross Braude en Liam van Wyk het vir die gashere gedruk, terwyl Christie Grobbelaar ná ’n teenaanval waarin Luan Giliomee betrokke was, ook gedruk het.
Die Lions se Vuyo Gwiji en Armand Combrinck te teruggeantwoord voordat Meno Barnard die Sharks laat voorloop het. Met die tyd verstreke, het Ethan Adams en Gilermo Mentoe goed saamgespeel om die telling gelykop te maak. Die doelskop was misgeskop, wat beteken het dat albei spanne twee punte gekry het.
Die Cheetahs moes hard werk vir hul oorwinning oor Boland nadat hulle rustyd met 10-7 agter was. Juan Smal het van ’n dryfmaal af gedruk, terwyl Johnré Stopforth vir die Boland geantwoord en Ashlon Davids nog drie punte bygevoeg het.
Faf de Klerk het die Cheetahs se terugvegpoging in die tweede helfte aangevoer en Zander du Plessis se drie geskep voordat hy self oorgedruk het. Michael Annies het daarna twee keer gedruk wat die bonuspunt-drie ingesluit het. Die Boland het deur Joshua Eras en Bentley Geldenhuys geantwoord, maar kon nie ’n verloorbonuspunt inpalm nie.
Die laaste ronde begin Vandag wanneer die Lions om 17:05 teen die Stormers XXIII speel en die Sharks XV om 19:15 teen die Bulls XV uitdraf. Saterdag reis Cheetahs na Mbombela vir hul kragmeting met die Pumas om 14:00, terwyl die Boland Sondag om 15:00 in Wellington teen die Griekwas speel.