VANDERBIJLPARK – Atletiek Vaaldriehoek (AVD) het op 18 Februarie 2026 sy jaarlikse prysuitdeling gehou waar top atlete vir hul prestasies tydens die 2025-seisoen se Suid-Afrikaanse Kampioenskap vereer is.
AVD het weereens bewys dat die streek oor ’n ryk bron van atletiek talent beskik. Ondanks die jaarlikse verlies van skoolverlaters, word nuwe talent voortdurend ontwikkel. Iets wat duidelik blyk uit AVD se medalje-oes.
In totaal het AVD se atlete 53 individuele en vier spanmedaljes verower, waaronder 17 individuele en twee goue spanmedaljes getel het.
Die Baan- en veld-afdeling het goed presteer met agt individuele en een span goud, terwyl die pad- en landloop-afdelings ook waardevolle medaljes ingepalm het.
Chris van Niekerk, wat Suid-Afrika in gewigstoot by beide die Wêreld Binnenshuise Kampioenskap en die Wêreld Senior Baan- en Veldkampioenskap verteenwoordig het, is as AVD Sportspersoon van die Jaar aangewys.
Sy ma, Marika, het die toekennings namens hom ontvang omdat hy reeds teruggekeer VSA toe.

Voorts is twee uitvoerende bestuurslede, Sabata Kumalo en Tracey Olivier, ook vir hul bydraes as spanbestuurders tydens nasionale byeekomstes vereer.
Met 19 Suid-Afrikaanse kampioene (individueel en in spanverband) op rekord, onderstreep AVD dat hy ʼn mag is om mee rekening te hou.
