Local newsNews

Pen in my Hand maak reg vir Chris Karsten

Hierdie befaamde en bekroonde skrywer besoek Laevelder se maandelikse Pen in my Hand-geleentheid op 7 Maart by A Bica-koffiewinkel.

MBOMBELA – Skrywer en joernalis Chris Karsten se lys van publikasies is eindeloos en sluit alles in van ‘n biografie van Suid-Afrika se liefling, Charlize Theron tot jeugromans oor ‘n jokkie wat met perde praat.

Uiteraard sluit dit ook ‘n hele lys spanningsromans in én ‘n ware misdaadreeks wat die stories agter die stories van van die land se grusaamste misdade vertel.

LEES OOK: Pen in my Hand: Allan Heyl shares new book

Karsten het die afgelope sewe jaar in Kanada gewoon en het onlangs na George in die Suid-Kaap verhuis.

Tydens die bespreking sal hy na al sy boeke en sy lewe as ‘n skrywer verwys.

“My jongste boek is Koms van die Motman. ‘n Nuwe een verskyn in Oktober, wat ‘n soort opvolg gaan wees op Seisoen van Sonde, een van my eerste spanningsverhale, waarin die hoofkarakter ‘n skoenlapperboer is. Ons kan dus dalk ‘n bietjie oor Seisoen van Sonde gesels vir diegene wat die agtergrond wil hê vir die boek, maar oor die nuwe boek kan ek voor publikasie nie eintlik veel sê nie.”

Karsten het ook al talle pryse ingepalm vir sy skryfwerk onder andere die ATKV Prosa-prys in 2011 vir Abel se Ontwaking en ‘n silwer Sanlam Jeugroman-toekenning in 1985 vir Floris Sapiens.

LEES OOK: ‘n Engel kom gesels, sing by Pen in my Hand

Kaartjies vir die aand kos R50 per persoon en kan bespreek word by A Bica by 062-422-6842. Die kostes sluit ‘n aandete in en die geleentheid begin om 18:00. Karsten het belangstellendes ook uitgenooi om boeke wat hulle reeds van hom het, na die geleentheid te bring indien hulle dit geteken wil hê.

 
Back to top button