Nuwe CD bekoor met soete klanke

Meesleurend, magies en majestieus. 'n Mens gryp na woorde om Jan Neethling en Elize Ballack se CD te beskryf. Die liriekskrywers en komponiste van die psalms en gesange sou trots gewees het om dit te hoor. Selfs Johannes Bach en Koos du Plessis sou verstom gestaan het.

Neethling is ‘n meester in sy veld met sy heuningstem. Hy het nooit formele opleiding ontvang nie, maar is van ‘n familie met ongekende musiektalent.
Hy sê immers die Neethlings sing “O God van Jakob” al van ds. Andrew Murray se dae by troues, begrafnisse en wanneer hulle van mekaar af weggaan. Murray was vanaf 1822 tot 1866 bekend as predikant en sendeling tydens sy bediening in die Nederduitse Gereformeerde Gemeente, Graaff-Reinet.

Lees ook: Vloedwaters skei dorp

Na ‘n bietjie aansporing erken die beskeie Neethling wel dat hy in die Stellebosch Universiteitskoor gesing het. Hy was ook deel van die a cappella-mansgroep, Boschenzangers, wat die nasionale Crescendo-musiekkompetisie in 1989 gewen het.

Jan Neethling met die nuwe CD, In die hand van die Here.
Elize Ballack se orrelspel dien as begeleiding vir die CD.

Neethling en Ballack het reeds onder inperking vlak vyf verlede jaar aan die CD begin opneem. Die polisie het ‘n permit geweier vir opnames in die kerk. Toe, eie aan Neethling se onverskokkenheid, het hulle ‘n begrafnis gekaap en ‘n opname gedoen. Ballack is ook die NG Moedergemeente se orrelis. Natuurlik moes die opnames by die orrel opgeneem word, wat die tydfaktor met inperking belangrik gemaak het. Hulle moes wag dat die brommende verkeer stilraak en vinnig voor die inkloktye huis toe jaag. Vir elke lied was daar net tyd vir twee opnames, met ‘n paar minute tussenin die enigste kans om orrelregistrasie en inleidings te beplan.
“Ek het liedere gekies waarvan ek hou, wat ek graag loop en sing of neurie en wat my in moeilike tye dra, wat my dikwels herinner aan die hand van die Here. Ek sluit van die psalms in, omdat verskillende mense in my famlie gevra het ek moet tog die woorde opneem. Psalm 23 het ek byvoorbeeld op ‘n paar se troues gesing en Psalm 100 loop ek elke jaar op die plaas en sing as die eerste somerreën val,” het Neethling vertel.
“So nimm denn meine Hände” is spesiaal in Duits vir die Duitse familie opgeneem. Vir Psalm 23, 48 en 100 het hy Totius se woorde gebruik en hy het Psalm 146 met die Voortrekkerwysie gesing sodat dit nie uitsterf nie. “Ons begin hopelik einde Februarie met die opname van ‘n Kersalbum. Die derde CD gaan die ou hallelujaliedere wees wat vergete raak. Dit gaan ons in ‘n saamsingformaat doen, soos karaoke. Die CD is ideaal vir gemeentes wat nie ‘n orrelis het nie en dit wil gebruik as begeleiding. Ek hoop mense sing uit volle bors saam.”
Die omslag is ontwerp deur ‘n vriendin, plaaslike kunstenaar Lynette Hinton. Die dubbel-CD kan by Postnet Lydenburg gekoop word. Die liedere is ook beskikbaar op YouTube, die stroomdiens Spotify en Apple Music.

Lees ook: Mengelmoes van Afrika-klanke lig die plafon

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button