Animals

Leeu haal fetus uit buffel se buik

Die ander twee leeus het die buffelkoei, wat ooglopend dragtig was, in die water gevang na 'n kat-en-muisspeletjie wat seker 30 minute geduur het

TSHOKWANE – Oud-Laevelders wat onlangs weer die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) besoek het, het die ongelooflike voorreg gehad om ‘n buffelvangs reg voor hulle oë te sien afspeel. Wat dit so besonders gemaak het, was dat die leeus die buffel se ongebore kalfie uit haar pens gegrawe en in die bosse gaan versteek het.

Me. Dalene Robus en haar man, Charles het op 30 April vroeg van Satara na Tshokwane gery en by die Mazithi-dam stilgehou. Hulle het op ‘n buffel afgekom wat deur vyf leeus vasgekeer was. “Die wyfie en een mannetjie het na ‘n rukkie geloop. Een van die oorblywende leeumannetjies se een been was beseer,” het me. Robus vertel.

“Die ander twee leeus het die buffelkoei, wat ooglopend dragtig was, in die water gevang na ‘n kat-en-muisspeletjie wat seker 30 minute geduur het. Nadat hulle aan die hart en longe gevreet het, het hulle die buffel se pens oopgeskeur, die kalfie uit die baarmoeder gehaal en in die bosse gaan bêre,” het sy bygevoeg.

Kyk ook: Baboon hitches a ride in the Kruger National Park

Die Robusse het amper drie uur daar deurgebring. “In dié tyd het ‘n hele paar olifante kom water drink, asook ‘n groot trop buffels én ‘n renoster. Vier van die groot vyf was op ‘n stadium by die dam terwyl die leeus rustig aan die karkas gevreet het. Die beseerde leeu het laaste kom eet en selfs die karkas effens uit die water gesleep.”

Hulle het uiteindelik gery en twee kilometer verder op nóg ‘n trop leeus afgekom wat ‘n wildebees gevang het. “Ons het daardie dag seker sewe keer leeus gesien.” Robus het egter bygevoeg dat die wildtuin baie droog is.

“Ek sien swarigheid vir die diere dié winter. Ons het die meeste wild tussen Tshokwane en Satara gesien, heelwat meer as in die suide.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button