GalleriesLocal newsNewsSportSports galleries

Gryskatte slaggereed om die Kiwi’s aan te vat

Golden Oldies Rugby bied aan die effens ouer garde die geleentheid om steeds die sport te geniet en fokus merendeels op deelname en goeie sportmangees as die belangrikheid van wen

Groot opgewondenheid heers tans in die Gryskatkamp nadat die senior rugbyspelers van Lydenburg onlangs verneem het dat hulle einde volgende jaar Nieu-Seeland toe sal vertrek om hul rugbyvaardighede ten toon te stel.

Dié span, wat uit kranige senior rugbymanne bo die ouderdom van 35 jaar bestaan, is tans die enigste span van Suid-Afrika wat die landin die World Golden Oldies Rugby Festival in 2015 – ‘n gesogte internasionale toernooi wat elke twee jaar plaasvind – gaan verteenwoordig.

Golden Oldies Rugby bied aan die effens ouer garde die geleentheid om steeds die sport te geniet en fokus merendeels op deelname en goeie sportmangees as die belangrikheid van wen. Alhoewel daar ‘n paar aanpassing ten opsigte van die spel gemaak word en hier en daar ‘n reël gebuig word, kry spelers steeds die geleentheid om hul rugbyvaardighede uit hul jong dae ten toon te stel.

Moet ook nie dink dis ‘n afgewaterde spul nie. Allermins. “Alhoewel ons nie kompeterend speel nie en dit eerder vir ons gaan oor die liefde van die sport, speel ons beslis nie om te verloor nie. Niemand hou van verloor nie en ons beslis ook nie”, vertel Tommie Adlam, voorsitter van die span.

Volgens Adlam het die Gryskatte gedurende 2013 die gevoel onder senior spelers begin toets en na positiewe terugvoer het die span besluit om 2014 met oorgawe aan te pak. Dit is die eerste jaar wat die Gryskatte onder bestuur is en het reeds vroeër die jaar aan die National Golden Oldies Rugby toernooi deelgeneem in Pretoria waar hul onoorwonne uit die stryd getree het. Hulle het onder andere afgereken met die Technikon Witerwatersrand-span en gelykop geëindig teen die Hillbillies. Spanne van Alberton, Middelburg asook Kemptonpark het aan dié toernooi deelgeneem .

Alhoewel die seisoen nou tot ‘n einde gekom het, wink Nieu-Zeeland in die verte en het die Gryskatte besluit om aan te hou oefen. Dié vuur en vlam-span bied op 30 Augustus ‘n reuse toernooi op tuisbodem aan. “Ons is opgewonde om aan te kondig dat 18 Golden Olden spanne, omliggende spanne uitgesluit, die dag sal meemaak. Dit is egter ‘n familiedag en ons nooi almal hartlik uit om dit saam met ons te kom geniet”, sê Adlam. Daar sal onder andere aktiwiteite wees vir die kinders, ‘n biertent asook verskeie stalletjies.

Indien spelers graag by die Gryskatte wil aansluit kan Francois Kleyn gekontak word by 079-211-0580 of Adlam by 083-627-8869. Die manne oefen elke Dinsdag en Donderdag-aand om 18:00 by Rooikatpark.

BLOK

Die doel van die aangepaste reëls is om ‘n minder kompeterende weergawe van die wedstryd te skep asook om die moontlikheid van beserings te minimaliseer. Hier is ‘n paar interessante reels:

· Die skrum is nie-kompeterend. Die span wat dus die bal ingooi, is ook die span wat die bal moet wen. Spanne mag nie die skrum draai nie en ook nie aan mekaar stamp tydens die skrum nie.

· Die skrumskakel mag nie die bal volg in die skrum nie

· Geen vinnige lynstane mag geneem word nie

· Die optel van spelers in die lynstaan word nie toegelaat nie

· Spelers wat wel spring vir die bal mag nie bygestaan word deur ander spelers in die lynstaan nie

· ‘n Speler mag die bal in spel skop, mits hy in sy eie 22 meter area is. Indien dit buite die 22m plaasvind, word ‘n skrum toegeken aan die opponente waar die skop plaasgevind het

· Geen tikskop mag plaasvind wanneer ‘n strafskop of vryskop toegeken word nie.

· In sommige wedtryde word drieë nie verdoel nie en ‘n drie tel slegs 1 punt

· Die bal moet minstens 10 meter trek met ‘n afskop

· ‘n Speler wat ‘n geelkaart ontvang, mag onmiddelik vervang word deur ‘n plaasvervanger en na 10 minute terugkeer na die wedstryd.

· Indien ‘n rooikaart toegeken word, mag die speler ook onmiddelik vervang word deur ‘n plaasvervanger, maar mag die speler nie terugkeer na die spel nie. In ‘n internasionale toernooi waar meer as een wedstryd gespeel word, sal die speler wat ‘n rooikaart ontvang het eers voor ‘n disiplinêre verhoor verskyn.

Wedstryde bestaan uit drie 20 minute tyd-intervalle met 3 minute rustyd tussen elk

Moet ook nie verbaas wees as jy die manne in verskillende kleure broeke sien baljaar nie.

Rooi broeke: Spelers tussen die ouderdom van 35 tot 59 jaar kan in rooi broeke speel wat ‘n aanduiding is dat spelers met dié drag nie geduik wil word tot op die grond nie (tackled to the ground) of van hul voete af gestamp wil word nie. Dieselfde geld vir spelers tussen 60 tot 64 jaar.

Goue broeke: Spelers tussen die ouderdom van 65 – 69 met dié kleur broeke mag nie geduik word, of aan geraak word nie. Hulle mag nie meer as 15m met die bal hardloop nie.

Pers broeke: Dit dui spelers tussen die ouderdom van 70 en 79 jaar aan. Dieselfde reëls geld vir hulle as vir die goue broek-spelers.

Spesiale kommitee broeke: Spelers 80 jaar en ouer speel met spesiale kommitee broeke. Hierdie spelers mag ook nie geduik word of aan geraak word nie en mag slegs 15 meter met die bal hardloop waarna die bal uitgegee moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button