Noem dit en hy speel dit – sonder om te kyk!
Ashley Grobler speel op gehoor - op die kitaal sowel as in die lewe!

‘n Briljante jong man van 13 het die gehoor betower by Laerskool Bergland se musiekfees op 18 Oktober. Sy naam is Ashley Grobler en hy is blind.
Ashley het homself geleer kitaar speel en kan enigiets op gehoor baasraak. Hy speel graag saam met ander musikante en val in ‘n japtrap by ‘n orkes in.
Sy bogemiddelde ritmiese intuïsie sorg daarvoor dat hy kan byhou soos min – dis dié dat die plaaslike trekklavierspeler Thinus Koen hom raakgesien het. Hierdie duo vermaak ons stad nou saam by sosiale geleenthede waar hulle veral die “waslap-vastrap” speel.
Ashley was vroeër ‘n leerling aan die Prinshofskool in Tshwane. Hierdie skool vir blindes is ingerig om kinders met siggestremdhede deur hul skoollopbaan te help. Ashley is nou ‘n leerling aan die Laerskool Bergland en gaan sy laerskoollopbaan daar voltooi, waar hy heel goed vaar. Daarna is dit terug Pretoria toe, waar hy musiek as vak in braille gaan neem.
Ashley vertel dat hy nie vreeslik baie opgewonde is oor die vooruitsig van teorieklasse nie, maar met hierdie wonderwerk van ‘n musikant se praktiese vermoëns, is die teorie huiswerk sekerlik ‘n klein prys om te betaal vir die roem wat vir hom voorlê!
Mbombela is baie trots op hierdie musikant van ons en dis jammer dat ons vir Ashley aan Tshwane moet afstaan in 2015.
Sien Ashley in aksie:
