Op ‘n sielereis saam met Laurika
Laurika Rauch se vertoning by Emnotweni verlede Vrydag is só opgesom vanuit die gehoor: "Hierdie is sielskos en ek word al hoe voller."
Daar was net minder as 700 mense wat Laurika Rauch se vertoning Vrydagaand by die Emnotweni Arena kom bywoon het. Tog kry ‘n mens die gevoel dat sy vir jóú en jou alleen sing. Dat sy jou hartseer verstaan en saam met jou die heupe sal swaai wanneer die blydskap in jou borrel. “‘n Man stap” het die aand se program ingelei en is deur “Jy is te dierbaar” gevolg. “Blou” het die gehoor na hul asems laat snak en Laurika het dit só gesing dat dit vir die luisteraar voel asof ‘n stukkie van hom of haar deur die arena weergalm.
‘n Mens kon byna verlore raak in die klank wat die sangeres en haar pianis saam voortgebring het. Devereaux Van Der Hoven-Oosthuizen is ‘n briljante musikant en komponis wat onder andere aan die stuur van sake by die Innibos-hoofverhoog in 2014 was. Sy en Laurika het saam die storie agter elke liedjie so eerlik en opreg met hul musiek oorgedra dat die emosies in die saal die oorhand gekry het.
“Bly nog so bietjie (ek mis jou)” het ons laat verlang, voordat ‘n eenvrou-vertoning met die sing van “Krisjan Swart” die gehoor laat skaterlag het.
“Vat dit weg Didi!” het Laurika geroep en ‘n solo wat skrik vir niks is op die klavier uitgevoer.
Sy het ‘n aantal liedjies van haar nuwe album, Wals, wals Willemien, opgevoer wat net soveel genot soos ou bekendes gebring het. Hierdie CD is ook as vinielplaat by Musica beskikbaar.
“Die mense op die bus” het bekoor saam met ander treffers wat ons al jare ken en liefhet.
“Victoriabaai” het die harte vol heimwee gehad, en “Huisie by die See” en “Brekfis in Bloemfontein” het ‘n paar mense in die gehoor spontaan aan die neurie gehad. Dié handjievol wat begin saamsing het, was binne sekondes ‘n klein koortjie. Toe “Kinders van die wind” aan die beurt kom, het almal saamgesing.
Daar was ‘n encore en daar was nóg een. Toe die gehoor deur die arena se deure stap, was dit asof ‘n mens terugkeer aarde toe na ‘n wonderlike reis.
Laurika het ons na binne laat kyk, ons seer laat verstaan, ons blydskap help vier en elkeen is daar weg met die vrede van iemand wat pas iets baie spesiaal beleef het. Dis soos Maryke van der Merwe uit die gehoor opgemerk het: “Hierdie is sielskos en ek word al hoe voller.”













