Community galleriesEditor's choiceEntertainmentGalleriesLifestyleLocal newsNewsPeople

Talentvolle inwoner deel die vreugde van musiek met haar trekklavier

Hester Strydom se trekklaviertalente het reeds op vyfjarige ouderdom begin kop uitsteek en sedert daardie tyd het sy nog nooit ophou spog met haar selfgeleerde musikale melodieë nie

STEELPOORT – Hester Strydom se trekklaviertalente het reeds op vyfjarige ouderdom begin kop uitsteek en sedert daardie tyd het sy nog nooit ophou spog met haar selfgeleerde musikale melodieë nie.

“My aangenome ouers het die trekklavier vir my gekoop toe ek net vyf was. Ons was destyds nie so wel af nie en hulle het hom tweedehands by ‘n pandjieswinkel gekoop. Ek onthou nog dat die trekklavier reeds 40 jaar oud was toe ek hom ontvang het,” vertel Hester.

Sy het later uitgevind dat haar biologiese pa musikale talente gehad het en dat hy deel van ‘n boereorkes was. Sy het nooit trekklavierlesse ontvang nie en het self leer speel. Sy voeg ook by dat sy gaande oor boeremusiek is en dat dit een van haar inspirasies is wanneer sy verskeie liedjies op die trekklavier tokkel.

In 1998 het Hester die voorreg gehad om saam met Trevor Nasser, bekende kitaarspeler en liedjieskrywer van die Vyfster-televisiereeks op te tree, terwyl hy sy 12-snaarkitaar getokkel het en sy mandolien gespeel het.

Tussendeur het sy die trekklavier in die harmonieë ingewerk. Sy het haar ook daardie jaar in Steelpoort gevestig waar sy Mama Khaya-gastehuis en kroeg geopen het. Sy vertel dat sy meeste van haar optredes daar gehou het. Nasser self het al Mama Khaya besoek waar hulle weer saam die verhoog betree het.

“Ek het in 2004 na Bulgarye getoer waar ek vir 11 maande by ‘n plek genaamd Pirdob trekklavier gespeel het. Die klomp Bulgare, Russe en Romeine het omtrent oor my melodieë gegons.”

Sy speel vandag nog op dieselfde instrument wat sy as dogtertjie ontvang het en glo hy is nou al oor die 80 jaar oud. “Een van die knoppies op die trekklavier het op ‘n stadium gebreek en slegs ‘n blinde man wat met melaats gediagnoseer was, kon hom op die regte noot instel.

“Die herstelwerk het hom ses maande geneem. Ek pas my trekklavier baie mooi op en beplan om dit eendag as ek nie meer kan speel nie, aan een van my kleinkinders oor te gee.”

Hester gaan op 6 November by Lydenburg Rusoord optree. As enige instansies wat fondsinsamelings hou of dienssentrums vir behoeftiges graag wil hê dat sy hulle met haar musiek moet vermaak, kan hulle haar gerus skakel.

Sy voeg by dat sy haar musikale talente vir liefdadigheid gebruik en om die harte van die minderbevoorregtes te bemoedig. Skakel haar by 079-598-2988.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button