Kersmoeder en helpers verbly kinderharte
Hierdie joernalis het swaar gesluk tydens die geleentheid. Die kinders was baie opgewonde oor die oulike geskenke en die lekkergoed-pakkies, maar toe hulle hoor van die warmbrakke wat op pad was, was dit duidelik dat dit beslis 'n hoogtepunt is.
‘n Hele paar kinderharte het Saterdag oggend gejubel van vreugde toe ‘n baie spesiale gas by Laerskool Barberton gestop het.
Hierdie kinders, wat deel is van die voedingskema van die skool, het grootoog en glimlaggend toegekyk hoe ‘n baie funky Kersmoeder (Santie Pretorius, ook bekend as First Lady Smurfy) op haar motorfiets saam met haar drie helpers, Jauné Liebenberg (Nykie), Nathan Pretorius (Boo) en André Pretorius (Angelface), opgedaag het.
Die vierstuks Barbertonners is deel van die Laeveld se tak van die motorfietsklub Leader of the Pack, ‘n klub wat in 2002 deur die huidige nasionale president Abrie Beetgé gestig is.
Volgens Santie het Abrie ‘n baie sagte hart en het ‘n wyle terug besluit om by liefdadigheids-werk betrokke te raak. Dit sluit in plaaslike skole en die kinders wat by die voedingskema betrokke is.
“Ons motorfietsraad het ons eie Santa Run begin. Hierdie projek gee die speelgoed aan die motorfietsklubs wat hulle ondersteun om hulle projek te voltooi. Ons as lede van Leader of the Pack hier in die Laeveld het die Toy Run genader om ons te help hier in Barberton.
“Bernadette Woodford van die Lowveld Biking Community wat die Toy Run doen, het die geskenke aan ons geskenk,” sê Santie. Sy het met die kleingoed gepraat en gesê hulle gaan nie net ‘n eenmalige gesig wees nie, maar dat hulle van nou af aan baie meer betrokke in hulle lewens gaan wees.
Hulle beoog ook om by meer liefdadigheidsprojekte betrokke te raak om sodoende meer families en veral die kinders wat hulle baie na aan die hart lê, te help. Sy het baie dankie gesê aan die borge wat die dag moontlik gemaak het.
Hulle was Bernadette Woodford van die Lowveld Biking Community vir die teddiebere, Power of the Girls in Barberton vir die waslappe, tandepaste en seep, Coastal Hire vir die geld wat hulle geskenk het om die gelukpakkies op te maak en die geskenkpapier aan te skaf, Caroline Lombard van C.K. Bakery Paradise vir die kolwyntjies en Rudi Prinsloo, Andrea Botha en Wouter Prinsloo van John Henry’s Pub vir die heerlike warmbrakke waarmee die kinders bederf is.
“Sonder julle sou ons nie die kindertjies se harte kon verbly nie. Ons waardeer dit opreg. ‘n Besonderse dank ook aan Leader of the Pack second lady Nykie, visiepresident Boo en president Angelface,” het sy gesê.
Adjunkhoof van Laerskool Barberton, Susan Schoeman was ook teenwoordig en het haar hartlike dank teenoor die vierstuks uitgespreek asook die wens dat hulle nog baie sal saamwerk in die toekoms.
Hierdie joernalis het swaar gesluk tydens die geleentheid. Die kinders was baie opgewonde oor die oulike geskenke en die lekkergoed-pakkies, maar toe hulle hoor van die warmbrakke wat op pad was, was dit duidelik dat dit beslis ‘n hoogtepunt is.
Ek vra dat besighede en individue vir ‘n oomblik in daardie jong skoene moet klim en ‘n paar treë sal stap – ver genoeg om jouself te kan inleef in die opgewondenheid oor ‘n warmbrak versus ‘n geskenk.
Maak julle harte en hande oop en bied jul ondersteuning aan hierdie vier mense om hul doel te bereik naamlik om elke kind in Barberton wat behoeftig is, ongeag ras en kleur, se lyding so ‘n bietjie te verlig.
Santie kan by 076-819-3439 geskakel word of e-pos haar by spsantie@gmail.com.












