Slangvanger het ‘n besige seisoen
Hy en Irene neem die giftige slange wat groot genoeg is na Witrivier waar hulle gif gemelk en dan na Onderstepoort gestuur word om teengif te maak.

Menige swartmamba en spoegkobra het sedert November letterlik hulle koppe by talle huise in Barberton uitgesteek. Die baie giftige voëlslang (twig snake) was ook volop en vir hierdie kalant is daar tot dusver geen teengif nie.
Volgens Irene, vrou van Peet Huygen, alombekende slangvanger van die dorp, het hulle ondervind dat die slange boonop groter as gewoonlik is. Die rede hiervoor is nie duidelik nie.
Peet, wat van kindsbeen af ‘n besondere liefde vir reptiele het, is ‘n vrywilliger van die Parkeraad. Hy en Irene neem die giftige slange wat groot genoeg is na Witrivier waar hulle gif gemelk en dan na Onderstepoort gestuur word om teengif te maak. Die teengif vind dan sy pad terug na Barberton en ander plekke waar daardie spesifieke reptielspesie aangetref word.
Hoewel die meeste van die slange in of naby woonhuise gevang is, was daar ook in Desember ‘n krokodil wat sy verskyning in Emjindini gemaak het. Peet het die knewel gaan aankeer en is in die proses aan sy hand gebyt, maar dit was gelukkig nie ernstig nie. Die krokodil is weer in ‘n veilige omgewing vrygelaat.
In die meeste gevalle vra die Huygens geen uitroepfooi nie aangesien die Parkeraad se reëls bepaal dat hulle wel ‘n donasie mag vra wanneer Peet daarin slaag om ‘n slang te vang, maar dat hulle slegs op ‘n uitroepfooi geregtig is wanneer hy nie suksesvol was nie.
Die egpaar het tans 17 skilpaaie met die nodige permitte. Al hierdie skilpaaie is gered en het só hulle pad na die Huygens gevind. Hulle is ook in besit van likkewane, bebaarde drake, tenrec-krimpvarkies en luiperdgeitjies. Vir ‘n mens wie se lewe uit slange bestaan, was Peet tot dusver baie gelukkig aangesien die enigste giftige slang wat hom al bygekom het ‘n spoegkobra was wat hom in die oë gespoeg het. Hy is wel al talle kere deur sy nie-giftige troetelslange gepik.
Irene sê indien jy ‘n slang sien, moet jy hom nie self probeer vang nie maar hom net in die oog hou en hulle bel. Peet se nommer is 079-456-5630.
