Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Gemeenskap kom bymekaar tydens konsert

"Ons hoop dat die leuse, 'Per harmonia ad caput' (deur samewerking kom krag) voortaan van toepassing sal wees op Barberton en sy mense."

Solidariteit Helpende Hand het Saterdagaand in die saal van Laerskool Barberton konsert gehou. Volgens Fransie Badenhorst van die Barbertonse tak het die biessies tot 20:30 toe behoorlik gebewe en toe net ná 21:00 gaan lê. Die doel van die konsert was om verskeie groepe byeen te bring en kans te gee om mekaar van nader te leer ken om samewerking in die toekoms te vergemaklik.

“Ons hoop dat die leuse, ‘Per harmonia ad caput’ (deur samewerking kom krag) voortaan van toepassing sal wees op Barberton en sy mense,” het Badenhorst gesê.

Almal – individue, kerke, liefdadigheidsorganisasies en skole – het aan die aand deelgeneem en talle besondere items is op die planke gebring.

Seremonimeester Gerda-Marie van Rooyen het die konsertgangers wat die saal volgepak het, op hulle gemak laat voel. Badenhorst het gesê sy is verheug oor die vyf nuwe lede wat hulle vir die Barberton-tak gewerf het.

“Dit is grootliks te danke aan ons streeksverteenwoordiger, Alisha de Lange wat haar goed van haar taak gekwyt het om die mense meer omtrent hierdie organisasie en sy aktiwiteite te vertel.” Daar is aanvanklik 150 kaartjies gedruk wat almal verkoop is, asook een ekstra.

“Ek wil vir Barberton se mense baie dankie sê vir die ondersteuning en veral Laerskool Barberton vir die gebruik van hulle snoepie, saal, klankstelsel en beligting. Ons het net kon oopsluit, alles was in plek. Dit was ‘n baie lekker aand.”

Vir meer inligting oor Solidariteit Helpende Hand, skakel gerus vir Fransie Badenhorst by 082-962-4149 of stuur ‘n e-pos aan piet.fransieb@gmail.com.

Fotos deur Stephen Allen. Vir bestellings, kontak hom by 0718736393.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button