Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Laeveld Media se admin vroue kuier ‘n hond uit ‘n hok uit

Die DBV is absoluut afhanklik is van skenkings om hulle deure oop te hou. Een feit het soos 'n paal bo water gestaan - hierdie admin-dames het harte van goud en almal is lief vir diere.

Dit was ‘n vrolike groep vroue van Laeveld Media se adminafdeling wat Donderdag by die DBV in Barberton besoek afgelê het.

Die dag was beplan as deel van hierdie afdeling se liefdadigheidslopie. Die groep is deur Marlies Liebenberg, streeksvoorsitter van Mpumalanga DBV ontvang. Sommer met die intrapslag het Liebenberg die vroue vinnig op hul gemak laat voel. Nadat die water en dierekos deur die ywerige span afgelaai is, het sy hulle alles en nog wat vertel van die werk wat hulle in Barberton doen. “Ons werk nie net met katjies en hondjies nie, maar met alles – van ‘n olifant tot ‘n rysmier,” het sy gesê.

Leonie Jordaan, finansiële bestuurder van Laeveld Media het daarna ‘n koopbewys van ‘n JoJo-tenk oorhandig wat in hierdie week nog by die DBV afgelewer gaan word.
Jordaan het gesê die skenking van die dierekos en water is solank gemaak omdat die JoJo-tenk nog in wording is. Sy het baie dankie gesê aan haar hele adminspan en in besonder aan Cornelia Potgieter wat die voortou in die hele aksie geneem en ook die borge genader het. “Hopelik teen volgende week sal ons aan die DBV ‘n finale antwoord kan gee van wanneer die pomp en die tenk geïnstalleer sal word,” het Jordaan gesê.

Liebenberg het na die oorhandiging namens almal by die DBV haar dank uitgespreek. Sy het vertel dat hulle absoluut afhanklik is van hierdie tipe skenkings om hulle deure oop te hou.

Die 11 vroue is na afloop van die formaliteite die kans gegun om van nader met die diere kennis te maak. Die honde en katte, wat almal goed versorg daar uitgesien het, was maar te gretig en dankbaar vir die baie aandag wat hulle ontvang het.

Die emosies onder die groep vroue het gewissel van tranerig tot uitbundig vrolik om met die diere te kon speel. Een feit het soos ‘n paal bo water gestaan – hierdie admin-dames het harte van goud en almal is lief vir diere. Namens elke diereliefhebber in Barberton bedank ons die groep van Laeveld Media. Julle is tops!

Op Vrydag het Laeveld Media die volgende brief van Liebenberg ontvang wat hulle graag met die lesers wil deel:
“Wat ‘n aangename verrassing om so baie wonderlike vroue te ontmoet wat saam die welkome skenking van kos en water vir ons kom aflewer het. Praat nie eens van die JoJo-tenk wat ‘n groot verskil hier gaan maak nie. Ek wil graag vir elkeen van julle groot dankie sê – nie net vir die goeie gawes nie, maar ook julle wonderlike gesindheid en bereidwilligheid om te help. Dis nie altyd maklik om in hierdie moeilike finansiële tye ‘n liefdadigheidsorganisasie staande te hou nie. Ons as vrywilligers raak ook soms moedeloos maar byt vas omdat daar altyd nog diere is wat hulp nodig het. Julle besoek was regtig ‘n riem onder die hart omdat dit weer eens bewys het daar is mense wat omgee daar buite. Dankie ook aan Buks Esterhuizen dat hy julle toegelaat het om in werkstyd by ons aan te kom en aan Barberton Times wat ons groot staatmaker hier is.
Ek sien daarna uit om julle weer te sien – hou die koffie reg!
Nogmaals dankie namens al die weggooidiere in ons sorg.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button