Geliefde Colin Walker se skielike dood skok gemeenskap
Diegene wat Colin goed geken het, sal beaam dat hy 'n man met 'n skerp sin vir humor was en boonop hoogs intelligent. Daar was weinig waaroor hy nie kon praat en redeneer nie - en dit altyd vanuit 'n ingeligte hoek.
‘n Groot gedeelte van die Barberton-gemeenskap is in rou nadat hulle die nuus ontvang het van die afsterwe van Colin Walker, een van die groot geeste van die dorp. Colin is Saterdagmiddag in Rob Ferrreira Hospitaal in Mbombela oorlede nadat ‘n bedseer, wat klaarblyklik gangreen tot gevolg gehad het, sy lewe geëis het.
Boodskappe stroom van oraloor in en Barberton Times het besluit om as blyk van respek en waardering vir alles wat hy vir hierdie dorp, asook as informant van die koerant beteken het, sy familie en kollegas die geleentheid te gee om hulle “onthou” af te stof en staaltjies van Colin te vertel.
Sakkie Dednam, eienaar van Hi-Tech Sekuriteit Barberton waar Colin as beheerkameroperateur gewerk het, vertel dat hy op 14 Desember 2004 by die Hi-Tech-span aangesluit het.
Dednam en die res van die span onthou Colin so:
“Ons moes na sy huis gaan om die onderhoud met hom te voer, want hy kon nie dorp toe kom nie.
“Die eerste woorde uit sy mond was: ‘Hallo, ek is Colin Walker, maar my van moes eintlik Wheeler gewees het!’
Colin was onmiddellik ‘n gunsteling by ons kliënte. Hy het altyd opreg belanggestel en het empatie met alle mense gehad. Hy het meer as sy plig gedoen en die skakelbord was altyd besig wanneer hy aan diens was, want almal was sy ‘familie’. Hy kon ure lank gesels, hy het alles van almal geweet en het meelewing met almal gehad. Die telefoon was sy mobiliteit. Ons moes selfs vir Colin ‘n ‘ramp’ by ons ou kantore in die Old Mutual-gebou in Presidentstraat laat bou, want die outjies het moeg geword om hom die trappe op te dra! Elke oggend as ons die kantoor binnestap, is ons dadelik gebel om môre te sê.
“Colin was ook baie lief vir diere: hier het eendag twee kolliehonde aangekom en hulle tuisgemaak, ook het hy ‘n Hi-Tech-kat, Tiger, gehad wat heeldag in die kantoor by hom gelê en slaap het. Tiger het saam met hom geëet en op sy skoot gaan lê wanneer hy met sy rolstoel gery het. Hi-Tech gaan hom baie mis!”
Colin, wat die vierde van vyf kinders, drie broers en twee susters was, is op 19 Februarie 1964 in Botswana gebore waar die gesin se pa destyds gewerk het. Nadat hulle na Pretoria verhuis het, het Colin sy skoolloopbaan by Laerskool Silverton begin en by Hoërskool Silverton voltooi.

Sy jongste broer, Gavin, wat na Colin se motorfietsongeluk in Mei 1984 saam met hom in Pretoria by die polisie se vingerafdrukeenheid gewerk het, vertel dat hy baie aktief was voor die ongeluk en onder andere yshokkie asook korfbal vir die polisie gespeel het.
Soos baie Barbertonners kan getuig, het Colin se rolstoel hom geensins teruggehou nie en het hierdie immer-jonk-van-geesman selfs in hierdie dorp baie manewales aangevang.
So ‘n paar jaar gelede het hy besluit hy wil weer ‘n bietjie spoed onder hom voel en die wind deur sy hare laat speel. Sommer vinnig het hy ‘n jong motorfietsryer oortuig om met volle vaart weg te trek terwyl hy agter aan die fiets vasgehou het. Die stadige gery van die tiener met die 50cc het dit maar net nie vir Colin gedoen nie, en toe hy op ‘n kol skree: “Gee hom gas!”, was dit nie lank nie of hy is uit die rolstoel gepluk en in die teerpad afgesleep.
‘n Ooggetuie wat die hele gedoente gade geslaan het, het na die tyd gesê dit het gelyk soos Batman wat agter die motorfiets aangevlieg het. Soos Colin dikwels gesê het van brandewyn wat nie brieke het nie, was dit dan ook daardie dag en het hy met ‘n gebreekte been daarvan afgekom het.
In ‘n video-onderhoud wat Barberton Times met Colin in Mei verlede jaar gevoer het en wat groot opslae gemaak het, het hy vertel dat hy nou, na al die jare die wêreld in die oë wil kyk en uitkom met die waarheid oor hoekom hy op 1 Mei 1984 die motorfietsongeluk gemaak het wat hom in ‘n rolstoel laat beland het. Tot op daardie stadium was dit net sy familie wat die waarheid geweet het, aangesien hy aan almal vertel het dat dit ‘n hond was wat voor hom ingehardloop het.
Die boodskap was duidelik – moenie drink en bestuur nie. “Jy wil nie dit deurgaan nie, so asseblief, voor jy daardie windgat-ou in die ‘bar’ wil wees wat sê: ‘Ek kan hierdie bottel Stroh Rum klaardrink en dit gaan my niks doen nie’, omdat jy ietsie wil bewys… jy bewys f*k*l,” was sy woorde.
Die tweede oudste van die Walker-kroos, Elton, vertel dat Colin altyd die dwars een in die huis was met ‘n wil van sy eie soos min. “Hy het nie teruggedeins vir niks of niemand nie, vandaar het hy op laerskool reeds die bynaam Gansie gekry. Op hoërskool het hy in sy matriekjaar vir spangees aan die 400m-wedloop tydens die huissport deelgeneem en gewen sonder dat hy ooit geoefen het, en hy het boonop gerook!”
Diegene wat Colin goed geken het, sal beaam dat hy ‘n man met ‘n skerp sin vir humor was en boonop hoogs intelligent. Daar was weinig waaroor hy nie kon praat en redeneer nie – en dit altyd vanuit ‘n ingeligte hoek.
Gavin vertel dat Colin en twee van sy vriende wat ook in rolstoele was een aand in sy woonstel gekuier het. ‘n Polisverkoopsman het aan die deur geklop en hy het hom binnegenooi. Die man het ewe verbaas gevra waarom almal in rolstoele is. Colin het geantwoord dat daar nie genoeg sitplek vir almal was nie, daarom het hulle drie hul eie stoele saamgebring. Nodeloos om te sê het die man, wat ewe verbaas na die leë sitkamerbanke gekyk het, die dokumente blitsig in sy tas teruggepak en sonder om ‘n woord verder te sê, vertrek.
Elton sê dat hulle pa in Colin se st. 9-jaar skool toe ingeroep is om hom met sy vakkeuses te help. Dit nadat die onderwysers tydens die opstel van die halfjaar-eksamenrooster agtergekom het dat Colin vir al die vakke ingeskryf het en dat hy die klas bygewoon het waarvoor hy lus was, dus wou die eksamenrooster nie uitwerk nie!
“Weens sy baie vakke was sy tas te swaar om huis toe te dra en het hy ‘n plek by die skool gehad waar hy dit in die middae gelos het en weer in die oggende gekry het,” vertel Elton.
Die Walker-familie wil graag Colin se vriende, kennisse en kollegas in Barberton vir al die liefde, ondersteuning en hulp wat hulle aan hom gebied het, bedank. “Ons as familie deel in julle hartseer en verlies.”
Colin Walker se roudiens sal plaasvind op Maandag 30 Mei om 11:00 vanuit die AGS Kerk, Peacock Straat 24, Barberton.
Op 21 Mei 2015 om 14:00 het Barberton Times die onderstaande video-onderhoud met Colin Walker gevoer.
Op 21 Mei 2016 omstreeks 14:00 is Colin Walker oorlede.
Die onderstaande interressante brokkies oor Colin se troudag asook ‘n daaropvolgende artikel is deur Elton aan Barberton Times gestuur:

