GalleriesLocal sportSportSports galleries

Laeveld-spanne onoorwonne op Barberton

Vanaf Vrydag tot Sondag het klubs van die Laeveld (Barberton, Nelspruit, LVCC, Malalane, Hazyview, Sabie, Witrivier en Lydenburg), die Hoëveld (Witbank) en Sentraal (Middelburg) die balle op die baan laat sing.

Barberton se rolbalbaan was die naweek ‘n behoorlike miernes van bedrywigheid.
Spelers van regoor die hele provinsie het vir die jaarlikse Mpumalanga Ontwikkeling Mini-interdistriktewedstryd byeengekom.

Vanaf Vrydag tot Sondag het klubs van die Laeveld (Barberton, Nelspruit, LVCC, Malalane, Hazyview, Sabie, Witrivier en Lydenburg), die Hoëveld (Witbank) en Sentraal (Middelburg) die balle op die baan laat sing.

Met die jongste speler wat slegs 12 is en die oudste 78, is dit ook weereens bewys dat rolbal ‘n sport vir oud en jonk is.
Die gasheer van die jaar kry altyd die geleentheid om twee mans- en twee vrouespanne in te skryf en ontvang ook die finansiële opbrengs van so ‘n naweek, dus was dit hierdie keer Barberton se beurt.

Van die begin af was dit duidelik – die tuisspanne het nie met hulle laat mors nie en het die besoekers behoorlik laat kleitrap. Teen Sondagmiddag was die Laevelders steeds onoorwonne en het hulle die een prys na die ander ingepalm.
Die mans-enkels is deur Steve Janse van Vuuren van Barberton gewen en die dames-enkels deur LVCC se Susan de Vries.

Dieselfde het vir die spanne wat uit vyf spelers bestaan het, gegeld.
Die mans sowel as die vroue wat as oorwinnaars uit die stryd getree het, was vanaf die Laeveld.
Volgens Wynand Britz van LVCC was dit voorwaar ‘n naweek van uitnemendheid.
“Die spangees en kameraderie wat onder die spelers van die verskillende streke geheers het, was ongelooflik en die spel was van die hoogste kaliber,” sê Britz.

Saterdagaand was daar ‘n braai by die klubhuis en Sondag, na afloop van die prysuitdeling, is daar behoorlik makietie gehou.
“Ons wil spesiaal vir Jerry Gertzen, ons Laeveld-afrigter, vir alles wat hy vir die spelers gedoen het, bedank”
Britz sê Gertzen, wat ook assistentafrigter van die junior nasionale span is, het reeds ses weke voor die tyd seker gemaak dat hulle opleiding van die hoogste gehalte ontvang.

Die victor ludorum was Rob van Biljon en die victrix ludorum-toekenning is deur Andri Bornman, Anne-Marie van der Ham en Annette Stassen, almal van die Laeveld, gedeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button