Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Seniors word met stylvolle piekniek bederf

Die plaaslike Guardian Angels het 'n groep seniors Donderdagoggend met 'n rustige piekniek op die NG Kerk se terrein en opwindende ritte in 'n spoggerige veteraanmotor bederf.

MALALANE – Tydens die Guardian Angels se Moedersdagbyeenkoms Donderdag by die plaaslike NG Kerk, het Zita van Rensburg van Van Rensburg Prokereurs met die groep oor testamente gesels.

Terwyl die groep hulle op stoele en komberse onder die bome in die kerk se tuin tuisgemaak het, het sy verduidelik dat in kleiner boedels, dit meestal oor die sentimentele items wat aan mense bemaak word, gaan. “Ek het deur die jare al geleer dat dit die klein goedjies is wat wys jy gee om,” het sy vertel. “Soos om ‘n serpversameling aan ‘n vriendin te laat of ‘n spesifieke skildery aan ‘n familielid.”

LEES: Musiek uit toeka se dae streel seniors se ore

In ‘n testament kan sake soos mediese besluite, spesifieke wense van wat met jou oorskot gedoen moet word, die verdeling van jou besittings en voorsiening vir jou troeteldiere en kinders onder 18 uitgestip word.

Zita het verduidelik dat dit geliefdes met moeilike besluite in ‘n emosionele tyd kan help.

“Jou testament hoef nie ‘n formele document te wees nie, dit kan selfs ‘n handgeskrewe brief wees. Maak net seker dat jou familie weet waar jy dit gebêre het.”

Na ‘n paar vrae van die groep, het Zita ook gesels oor prosedures met boedels en staaltjies vertel oor die vreemde plekke waar hulle testamente gevind het. Sy het ook spesifieke voorbeeld gegee van wat alles in ‘n testament vervat kan word.

Ná die interessante praatjie het die groep elkeen ‘n geskenkie ontvang en kans gekry om in Joachim en Annemarie Schulz se veteraanmotor om die blok te ry. ‘n Paar van die seniors, die Guardian Angels en selfs ‘n paar bystaanders het die bederf vreeslik geniet. Koppe het gedraai wanneer die pragtige wit motor in die straat afry en die passasiers het geborrel van vreugde en opgewondenheid.

LEES: Versamelaar bewaar erfenis vir nageslag

Daar is heerlik aan Chicken Licken en kolwyntjies gesmul, lekker tee en koffie gedrink en vir ‘n paar uur gesellig saam gekuier.

Die Guardian Angels bied so ‘n bymekaarkoms een keer per maand en nooi alle belangstellendes om by hulle aan te sluit. Die organisasie streef daarna om plaaslike seniors by te staan, hetsy deur kuiers of om hulle vir inkopies of haar- en doktersafsprake te neem. Die lede kom elke eerste Maandag van die maand om 13:00 by die NG Kerk Malelane bymekaar.

Vir meer inligting oor hulle bedrywighede of om aan te sluit, skakel Alta Robberts by 082-493-4261.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button