Tapas by Saffron is selfs geskik vir ‘n Spaanse koning
Daar word baie bespiegel oor die herkoms van Spaanse tapas. Klein, geurige happies wat saam met die drink van wyn geniet word.

Tapas betelen om te sluit of te bedek. Daar word vertrel dat die vroeë Spaanse herbergiers ‘n stuk brood of kaas by voorbaat bo-op die wynbekers bedien het om te keer dat die stof van die ou bouvallige tavernes van destyds – en selfs goggas, nie in die drank beland nie. Soos die eetlus met die wyntjie toegeneem het, is die broodjie dan as ‘n ligte ete geniet.

Daar word ook vertel dat een van die vroeë Spaanse konings op ‘n lang uittog ‘n herbergier langs die pad beveel het om iets meer van die tapas as bloot ‘n snytjie brood te maak. So het allerhande lekker sousies van die pot, snysels van die hak of kaiings van die rooster mettertyd op die broodjies beland. Kuierplekke het oor die eeue begin meeding met die beste happies met die wyn.

Saffron Restaurant aan die onderent van Ferreirastraat spesialiseer juis in hierdie tradisie – om die beste verskeidenheid tapas aan sy gaste voor te sit. Dis ook hier waar die bekende Laeveldse chef Gustav van Aarde onlangs beheer geneem het en toe die Lekkerbekke genooi het om sy beste te kom proe.

Saffron bestaan al vyf jaar. Dis solank as wat die Laeveld Lekkerbekke, ‘n groep gourmet vriende, al maandeliks so by plekke aansit. Dis egter eers met die 58ste samekoms dat die Lekkerbekke hier uitgekom het. Die wag was gewis die moeite werd.

Saffron deli dip platters was ‘n plank met ‘n keuse van gerookte vleise, beleë kase en geroosterde Spaanse broodjies met ‘n verskeidenheid geurige doopsouse.
Die geroosterde Knysna-mossels, sulke knewels in die skulp, was uitstekend. Daarna het ek geproe van chef Gustav se tuisgemaakte aartappel-gnocchi met gorgonzolasous en krakerige bresaola. Bresaola is vir die fynproewer. Dis lugedroogte gesoute bief, perd, wildsvleis of vark, verouder vir twee of drie maande. Ander as ons biltong, word maar vleis met min vet gebruik en het die vleis ‘n aangename soet en effens muwwerige smaak.

Daar was ook Griekse lamskofta met tzatziki en Ciprusslaai en ‘n groot bord vir die tafel met Mediterreense geroosterde bieffilet met olywe, songedroogte tamaties, olywe en gebraaide parmaham – alles happies wat mens nie aldag te eet kry nie.
Daar is egter ‘n geheim met die eet van tapas. Mens doen dit proe-proe. Dis nie vir aansit, eet en volkom nie. Dis ‘n soort maaltyd om rustig met jou wyn te geniet. Bietjie vir bietjie. Vra vir nog van die spesiale Spaanse roosterbroodjie as jy bang is dat jy nie gaan volkom nie.

Sulke uitsoeksmake kon net met uitsoekwyne gekomplementeer word en daarom het Marius de Beer van Distell besluit om die Lekkerbekke vir die eerste keer aan die Fleur du Cap-wyne bekend te stel. Sy keuse was ‘n uitstekende 2015 Merlot en Natural Light Rosé.
Toe ek later die ander se mening vra, is ek herinner om nie die keuse van die drie nageregte, ook tapastyl bedien, te vergeet nie. Creme brulé, Spaanse churros of ligte oliekoekstafies met ‘n warm chilli-sjokoladesous en die beste brownies.
Ek sal voortaan beslis meermale hier kom eet. Tydsaam, met goeie wyn en goeie geselskap.

