Dié basaar is op ‘n eg tradisionele lees geskoei
Terwyl die meeste Nelspruiters nog dommel en droom, gaan dit 'n miernes van bedrywigheid wees daar op die Gereformeerde Kerk se perseel op die hoek van Wilgerstraat en Koraalboomlaan.
MBOMBELA – Môreoggend voor die son opkom, gaan ‘n klompie Doppers wikkel en woel om die finale voorbereidings vir hul jaarlikse basaar af te handel.
Terwyl die meeste Nelspruiters nog dommel en droom, gaan dit ‘n miernes van bedrywigheid wees daar op die Gereformeerde Kerk se perseel op die hoek van Wilgerstraat en Koraalboomlaan.
Vanjaar word meer stalletjies opgeslaan om die groter verskeidenheid basaargoed, van lekkernye tot snuisterye, uit te stal. Besoekers kan kom rondsnuffel en na hartelus kies en keur van alles wat te koop aangebied word.
“Ons het besluit om nie ‘n tema vir die dag te kies nie. Ons wil ‘n tipiese tradisionele basaar hou met alles wat daarmee gepaard gaan. Maar ons wil ook hê dit moet ‘n tyd wees waar mense net kan kom ontspan, rustig verkeer en ‘n hond uit ‘n bos kuier,” sê die gemeente se leraar, ds. Thys Erasmus.
“Dit is ‘n geleentheid vir ons lidmate om gesellig te verkeer en veral ook na die gemeenskap uit te reik.”
Die gemeente nooi dus hulle bure en die ganse Laeveld om by die basaar te kom inloer en kennis te maak. Dit is nie net ‘n koop-en-loop-fondsinsameling vir die kerk nie. Dit dien ook as ‘n manier waarop die gemeente ander instansies kan ondersteun.
So is daar die DBV wat ook ‘n stalletjie gaan bedryf waar besoekers meer oor hulle werk te wete kan kom en ‘n donasie kan gee om hulle koffers aan te vul.
Die Voortrekkers wat weekliks by die kerk byeenkom, gaan ook môre weer daarheen opruk om deel te neem aan die speletjies en ander pret en plesier wat vir die jongklomp gereël is.
Bring dus die hele gesin. Daar sal iets vir oud en jonk wees. Verrigtinge begin om 07:00 en duur tot 14:00.

