Steelburger personeel span braai vermoë in om geld in te samel vir Home 4 Paws
Van vroeg oggend af was die Steelburger personeel reeds besig om rooster na rooster se boerewors te braai en broodjies te botter, als ten bate van die organisasie Home 4 Paws.
LYDENBURG – Verlede Vrydagoggend kon Steelburger/Lydenburg Nuus daarin slaag om ‘n aansienlike bedrag op Home 4 Paws se veeartsrekening af te betaal.
Personeel van die koerant het as ‘n gemeenskapsprojek hul gewig agter die skuiling vir vierpotiges gegooi en worsbroodjies op bestelling en tydens pouse by die snoepie van Laerskool Lydenburg verkoop.
Lees hoe Home 4 Paws amper deure moes sluit weens ‘n gebrek aan donasies.
Vanaf 07:00 was braaier, Mariska Sadler van die koerant se kantoor in Burgersfort, op haar pos by Vat 5 Nasorgsentrum wat goedgunstig ingestem het dat die koerant op hul perseel kon braai. Terwyl sy sonder om te kla, roosters vol wors gebraai het, het ander personeel die worsbroodjies voorberei en verkoop.
Met hierdie inisiatief kon Steelburger/Lydenburg Nuus en die gemeenskap wat dit ondersteun het, Cathy Schutte van Home 4 Paws se rekening met R3 000 laat krimp.
Die winter kruip al nader, lees hier hoe die winter verlede jaar die organisasie geaffekteer het.
Die koerant wil almal bedank wat hande in die projek gevat het en geld, wors en broodjies geborg het. Sonder Lydenburgers se oop hande sou dit nie ‘n sukses gewees het nie.
