Die Wildevy se bergfiets roetes is net vir die braafste
Fietsers moet hulle fiksheid in gedagte hou wanneer hulle die afstande selekteer. Dit is 'n resies wat beslis nie ligtelik opgeneem moet word nie.
‘n Mens kan nie “Wildevybergfiets” sê sonder dat jou broek so effe bewe nie. Hierdie is ‘n geleentheid waarvoor menige fietsryers hulle tande slyp. Daar word heeljaar geoefen om aan hierdie uitdagende en tegniese wedren deel te neem.

Vir die afgelope ses jaar is dit die uitmergelendste wedren in ons omgewing.
Ryers kan uitsien na asemrowende landskappe, tegniese uitdagings soos sand, grond, klippe, opdraandes en nog vele meer. ‘n Groot trekpleister is natuurlik die Tambotie Twister wat jou dwing om vinnig te dink en jou draaie vooruit te beplan.
Vorige jare het deelnemers wild soos vlakvarke, koedoes en ystervarke op die roete gewaar.
Alombekende fietsry-entoesias Arie Roos van Longtom Cycle & Sport in Lydenburg het met ons ‘n paar wenke gedeel wat jy in gedagte moet hou as jy hierdie uitdaging gaan aanpak. Hy meen dat deelnemers beslis seker moet maak dat hulle ekstra binnebande saamneem en dat die buislose (tubeless) bande gereed is.

Laat jou fiets vooraf diens en maak seker dat jou ratte werk. Kyk ver genoeg voor jou uit om jouself genoeg reaksietyd te gun vir die onverwagse klip, sloot of sandput. Onthou dat jou voorwaartse momentum jou gaan help om deur die hindernisse te kom, so ontspan en los die remme.
As jy nie ry vir ‘n wen nie, stop by al die waterpunte en geniet van die eetgoed en neem ‘n paar foto’s.
Hierdie wedren verskil van baie ander. Die baan is uitgelê deur plaaslike bergfietsentoesiaste. Daar is verskillende roetes en afstande. Dit sluit onder andere ‘n kinderren en roetes vir gesoute ryers in.
Daar is soos altyd wonderlike pryse op die spel en ‘n feestelike atmosfeer heers met lekker eetgoed, bier en stalletjies.










