Tydens Ohrigstad se jaarlike kerk basaar was daar weer baie om na uit te sien
'n Basaar is iets wat mens net nie kan misloop nie. Net die blote gedagte van al die lekker eetgoed en aktiwiteite laat jou vinnig die gesin in die kar pak en ry

OHRIGSTAD – Wintertyd is basaartyd en verlede Saterdag was die dorp se NG-gemeente se basaar een groot fees.
Soos dit altyd daar gaan, laat die kosreuke jou mond reeds water nog voordat jy die terrein instap.
Al die ou gunstelinge was daar – die koektafel, worsrolle, bopensbroodjies, nageregte, en alles wat eiesoortig aan ‘n basaar is.

Gesellige musiek het in die agtergrond gespeel terwyl die jongklomp aan pretaktiwiteite deelgeneem het, soos opblaasballe, die meganiese bul en gesigverf. Besoekers kon rustig by die tafels sit en gesellig oor ‘n koppie koffie kuier.
Later die middag het die lang verwagte veiling, ‘n tradisie eg aan dié gemeente basaar, plaasgevind. Van skilderye tot ‘n paar lewendige hoenders is opgeveil. Die witolifanttafel het groot aandag getrek met ‘n verskeidenheid items wat spotgoedkoop opgeraap kon word.

Aan die einde van die dag kon die kerk tevrede wees met die goeie verkope en getal besoekers wat die geleentheid bygewoon het.

