Sitrusfees sorg vir pret heel dag lank
Gaan groot of gaan huis toe. Dit was die hoofgedagte agter die derde Sitrusfees wat Saterdag gehou is.

Waterval CVO-skool het dit weer reggekry om ‘n bakgatfees vir oud en jonk aan te bied.

Uitstallers het van vroegoggend reeds gereed gemaak vir die dag se gebeure. Daar is vanjaar seker gemaak dat jong feesgangertjies vermaak word. ‘n Groot deel van die feesterrein is afgesonder vir springkastele, kaskarre, klim-en-klouterapparaat, asook batteryaangedrewe karretjies waarin die kleingoed kon ry.

By die stalletjies kon besoekers iets van alles koop, om nie eens te praat van die kosstalletjies wat smulpape gelok het nie.
Nuut op die program was ‘n plaasdraf waar deelnemers, omring deur die asemrowende natuurskoon, oor riviere en deur die bosse kon loop of draf.

Deur die loop van die dag was daar gedurig kunstenaars en vermaak op die verhoog. Die boeresport het gesorg vir groot pret. Spanne het mekaar uitgedaag in onder andere touspring, sakresies en toutrek.

Namate die son begin sak het, het die biertent al voller geraak terwyl die kampstoele voor die verhoog opgeslaan is vir Arno Jordaan se vertoning.

Daarna is die aand afgesluit met die optrede van die groep Moonshine wat tot laatnag toe geduur het. Besoekers aan die Sitrusfees het bewys dat Burgersforters inderdaad plesierige mense is.

