Ratels prysuitdeling 2019
Na 'n suksesvolle rugbyseisoen het die Ratels-rugbyspan van Ohrigstad hul jaarlikse prysuitdeling by die Plaashuis met oorgawe gevier.
Die Ratels het vanjaar die kwarteindronde van die Laeveld Reserwe Burgemeestersliga-afdeling gehaal. Verskeie spelers is met trofeë en toekennings vereer.
Puntemaker, Marko Maree is beloon vir die speler wat die meeste punte aangeteken het. Die mees lojale speler wat die meeste van die oefeninge bygewoon en wedstryde gespeel het, is Janus Weber.
Lees meer: Ratels begin seisoen op goeie noot
Die toekenning vir deurbraakspeler het aan Odwa Mbangi gegaan en die toekenning vir beste speler van die jaar is aan Llewelyn Erasmus toegeken. Jannie Oosthuizen het dit namens hom ontvang. Joshua Thomas het die trofee ontvang vir beste opkomende speler.
Die Ratels se afrigters loop oor van trots en sê hulle is meer as tevrede met die spelers se vordering, en dat hulle uitsien na die volgende seisoen om te verseker dat hulle die beker volgende jaar huis toe bring.
Ongelukkig verlaat die hoofafrigter, Wayne Dietrich, die span, maar die bestuur sê daar is geen kommer vir die toekoms nie; hulle sien steeds uit om hom langs die veld te sien en sal sy insette waardeer. Hulle beloof groot dinge vir die jaar 2020.

