Hawelose gehospitaliseer na ineenstorting
Die man het verbygangers glo met bakstene bestook voor hy na die hospitaal geneem is.
NELSPRUIT – ‘n Hawelose man wat Saterdagaand verbygangers met bakstene bestook het, is deur die polisie na die hospitaal eerder as die selle geneem.
Die polisie kon bevestig dat mnr. Joseph Mnisi nie in hegtenis geneem is nie, maar by Rob Ferreira Hospitaal opgeneem is. “Die polisiebeamptes het gevoel sy geestestoestand verg eerder mediese behandeling,” het sers. Gerald Sedibe, woordvoerder vir die Mpumalanga polisie, by navraag gesê.
Mnisi is ‘n bekende gesig in die industriële gebied waar hy met reuse-oorfone en blomme in sy hare rondloop. Hy het volgens ooggetuies verbygaande voertuie op die hoek van Ou Pretoria-weg en Plankiestraat met bakstene gegooi. Hy woon op straat en Laevelder het vantevore berig dat hy gereeld naby die bushalte mielies kweek. Hy word gereeld deur die owerhede van die perseel verwyder maar keer telkemale terug.
Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossies Community Justice, was Mnisi uiters geweldadig toe hy op die toneel aangekom het.
“Hy het ‘n groot deel van die plaveisel opgebreek en bakstene na enigiets wat beweeg gegooi,” het Meiring gesê. “Hy het ook glad nie sleg gekorrel nie.”
Daar was mettertyd sowat 15 polisiemanne sowel as beamptes van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en J&M Sekuriteit op die toneel.
Volgens Meiring het hulle die man omsingel en probeer keer dat hy ander of homself beseer. Tog het hy dit vermag om glo vier polisiemanne raak te gooi en een met ‘n stok te slaan tydens hul pogings om hom onder bedwang te bring.
Daar is ook ten minste vyf voertuie beskadig toe die bestuurders nie op die polisie se waarskuwings ag geslaan het nie en probeer verbyry het. Volgens Bossies Community Justice se Facebook-blad het ‘n splinternuwe Mercedes-Benz sowel as ‘n Pajero, ‘n BMW, ‘n VW Polo en ‘n Nissan Safari onder hierdie voertuie getel.
Volgens Meiring het dit twee-en-‘n-half-uur geneem voor die polisie die man in hul sorg kon neem. “Iemand, ek weet nie wie nie, het hom uit die bloute met ‘n baksteen teen die kop gegooi, en ons kon hom toe vang,” het hy aan Laevelder vertel.
Volgens Sedibe word geen klagtes teen Mnisi ondersoek nie.