CrimeNews

Video wys hoe pa van twee aangerand word

NELSPRUIT – Die 33-jarige pa van twee kleuters, Johan (Panner) Cronjé veg nou al 22 dae lank om sy lewe in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Nelspruit nadat hy op 4 Julie deur ‘n mede-eienaar van ‘n ontkleeklub aangerand is. In verlede Vrydag se uitgawe van Laevelder, is daar berig hoe Cat Smit (40) – een …

NELSPRUIT – Die 33-jarige pa van twee kleuters, Johan (Panner) Cronjé veg nou al 22 dae lank om sy lewe in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Nelspruit nadat hy op 4 Julie deur ‘n mede-eienaar van ‘n ontkleeklub aangerand is.
In verlede Vrydag se uitgawe van Laevelder, is daar berig hoe Cat Smit (40) – een van die aandeelhouers van Tango Blue – na bewering vir Cronjé by die Engen- vulstasie op die R40 aangerand het.
Dié week het Smit sy stilswye verbreek en deur sy prokureur, Koen Koekemoer, ‘n verklaring aan Laevelder gestuur.
Luidens die verklaring het Cronjé daardie aand die klub besoek. “Hy was ongelooflik luidrugtig en het die hele aand aangedring dat al die dansers in die klub hom moet vermaak. Hy was ook uiters ongeskik en kru met al die personeel wat by Tango Blue werksaam is. Hy was erg onder die invloed van alkohol en sy gedrag was uiters swak. Cronjé het die perseel omstreeks 00:30 verlaat sonder om sy rekening van R4 500 te vereffen.
“Toe Carmen Brown (Smit se meisie wat ook by die klub werksaam is) hom by die deur daaroor konfronteer, het hy haar teen die voorportaal se muur vasgestamp en haar gevloek. Brown het intussen ‘n saak van aanranding en crimen injuria teen Cronjé aanhangig gemaak.”

Koekemoer sê voorts sy kliënt beweer dat hy en Brown Tango Blue omstreeks 02:30 verlaat en op pad huis toe by die vulstasie gestop het om kos te koop. “Terwyl hulle daar was, het Cronjé ook daar gestop. Meer beskonke as voorheen.”
Volgens Koekemoer het Smit hom genader en gevra wanneer hy van plan was om sy rekening te betaal. “Cronjé was uiters aggressief en ‘n argument het tussen hulle ontstaan. Cronjé het gestaan en vloek en skree en het ook persoonlike beledigings teenoor Smit en Brown gemaak. Kort daarna het ‘n geveg uitgebreek waartydens hulle mekaar geslaan het. Cronjé het ook op ‘n stadium Brown se voete onder haar uitgeruk waarna sy op die grond geval het.”
Volgens Koekemoer is hulle daar weg terwyl hy nog staande was en slegs ‘n klein wond aan sy kop gehad het.
Sy verklaring lui verder dat, volgens hulle inligting, Cronjé polisiestasie toe is en vandaar na Rob Ferreira Hospitaal waar ‘n dokter hom ondersoek het. “Hy het ook self na sy huis toe gery. Verder, volgens ons kantoor se inligting, is hy eers die volgende dag na Mediclinic waar hy opgeneem is as gevolg van ‘n mislukte selfmoordpoging nadat hy, volgens bewering, ‘n aantal pille gedrink het.”
Cronjé se familie het sterk teen die bewerings gereageer. Laevelder het na vele pogings uiteindelik die beeldmateriaal van daardie aand se gebeure in die hande gekry. Dit vertel ‘n heel ander storie.

Hier volg ‘n uittreksel uit die video:

Op die video is dit duidelik dat Smit eers Cronjé in die parkeerarea gekonfronteer het. Daarna stamp hy hom en slaan hom met die vuis waarna Cronjé op die grond val. Smit loods ‘n verbete aanval op Cronjé deur hom verder met die vuis te slaan, te skop en op sy kop te trap. Dit wys duidelik dat Cronjé hier geensins aan Smit geslaan het nie, nie eens uit selfverdediging nie. Kort hierna strompel hy na veiligheid die winkel binne.
Dit keer Smit nie en die aanranding duur voort voor ‘n OTM. Daar kan nooit gesien word dat Brown aan hom slaan nie, hoewel sy op ‘n kol Smit probeer keer om hom verder aan te rand. Daar sit ook nie ‘n vrou op Cronjé se bors terwyl Smit hom aanrand, soos voorheen beweer is nie.
‘n Beampte van ADT het op die toneel aangekom, maar nooit fisies iets gedoen om die bakleiery stop te sit nie. Cronjé skakel iemand op sy foon en sy selfoonrekords het reeds gewys dat hy die polisie om hulp probeer kontak het.
Twee ander mense wat ook op die beeldmateriaal geïdentifiseer kan word, is Jaco Marneweck en Riaan Senekal. Marneweck het nie aan Cronjé geslaan nie, maar Senekal het hom wel stormgeloop en teen die OTM vasgestamp.
Cronjé se ma, Mantie, het vertel Panner het hulle daardie oggend na Rob Ferreira Hospitaal ontbied. “Hy was erg geskok, het geweldig gebewe en baie gehuil.” Hy het toe reeds, volgens haar van ‘n geweldige hoofpyn gekla en was naar.
Hulle het hom huis toe gevat, waar hy kort hierna inmekaar gesak het. Sy ouers het met hom na Mediclinic gejaag waar hy sedertdien behandel word.
Cronjé se ouers kon sedert die voorval nog nie self by hom uitvind wat gebeur het nie. Hy kan nie praat nie omdat hy nog nie self kan asemhaal nie en heeltyd aan ‘n ventilator gekoppel is.
‘n Vriend van hom, Anton Smit, het aan Laevelder gesê dat hy en Cronjé daardie vorige aand tot omstreeks 23:00 by Marlins gekuier het. Hierna is hy glo Emnotweni Casino toe en sy selfoonrekords wys dat hy 00:57 en weer om 02:10 hier kontant getrek het. Ig Olivier, bestuurder van Emnotweni, het bevestig dat Cronjé daardie oggend daar was en omstreeks 00:00 reeds daar aangekom het.
Besturende direkteur van ADT se noordelike gedeelte, Mike Kidson, het gesê dat hulle beampte die regte prosedure gevolg het. “Hy het die situasie opgesom en vir bystand gevra. Senior reaksiebeampte Brendon Beukes was toe daarheen onderweg. ADT het ook die polisie geskakel waarvan beamptes ons mense by die toneel ontmoet het.
“Die vulstasie is een van ons kliënte en dit is ons prioriteit om hul veiligheid te verseker. Die twee mans wat in die voorval betrokke was, was nie kliënte van ADT nie en het nie die lewens van Engen se eienaar en personeel bedreig nie. Dit was dus reg van ons om die polisie te ontbied om die konflik op te los.”
Smit en Brown het reeds in die hof verskyn op klagtes wat wissel van aanranding tot poging tot moord. Hulle is op borg van R1 500 vrygelaat en moet weer op
6 September in die hof verskyn.

Koekemoer het gesê: “Smit en Brown ontken dat hulle onregmatig vir Cronjé aangerand het en ten sterkste dat hy as gevolg van die voorval waarby hulle betrokke was, in die hospitaal opgeneem is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button