Local newsNewsNews

Bedding in herinnering van vrou se seun

Die oorlede Quintin Flynn se ma "gesels met hom" by hierdie tuintjie

NELSPRUIT – ‘n Pragtige, kleurryke bedding vang jou oog as jy met die R40 na Witrivier ry – net na die afdraai na die Nelspruitse Skougrond. Dis egter ‘n simbool van ‘n ma se verdriet nadat haar lieflingseun drie jaar gelede op presies daardie plek dood is.
Me. Heidi Joubert het dié tuintjie daar aangelê kort na haar seun, Quintin Flynn (24), se dood op 7 Augustus 2010. Hy was daardie Saterdag by die Nelspruit Motorskou en was omstreeks 19:00 op pad na sy huis in Witrivier om aan te trek vir ‘n 21ste verjaardagpartytjie. ‘n Motoris wat agter Flynn gery het, het nog vertel dat sy gesien het hoe hy vir ‘n voetganger moes uitswaai. Sy Opel Astra het na regs geswenk en weer links voordat dit oor ‘n reling gebars, gerol en daar tot stilstand gekom het.
Quintin is vermoedelik op slag dood. Louis Weilbach, wat saam met hom in die voertuig was, is uitgeslinger en onder die voertuig vasgepen. Flynn was vasgegordel. Sy lugsak het egter nie ontplooi nie en die nadoodse ondersoek het gewys dat hy sy nek gebreek het.
Heidi het nog self Quintin se lyk gaan versorg en hom gewas. “Ek het hom sy eerste en sy laaste bad gegee,” het sy Dinsdag by die bedding gehuil. Sy het Laevelder soontoe laat kom omdat boosdoeners plante daaruit steel. Sy en haar man, Hendrick, het al duisende rande aan dié tuin spandeer. ‘n Engeltjie uit mosaïek en ‘n foto van Quintin is ook vantevore stukkend gegooi. Hulle het al selfs kringtelevisiekameras daar laat oprig om te kyk of hulle die vandale kan vastrek.
Hierdie keer het die skuldiges egter plante aan die agterkant van die tuin uitgehaal, buite die kameras se gesigveld. Heidi kan nie sê Quintin is dood nie. Vir haar is hy net weg. Sy kom sit so twee keer ‘n week by die tuin om met hom te gesels.
Vyf weke na sy dood, is Heidi se dogter, Suzelle Prins (34), in Gauteng vermoor. Tog het daar ook iets goed uit haar kinders se dood gekom. Sy het kort na die dubbele tragedie haar huis as veilige hawe beskikbaar gestel en is tans die pleegouer van twee dogtertjies.
Sy wys na hulle waar hulle agter in haar Toyota Auris sit. Een van hulle is ‘n baba van net ses weke oud. Haar 21-jarige ma het haar weggeteken en sy gaan binnekort by aanneemouers geplaas word. Die ouer dogtertjie van sowat twee jaar, se toonnaels is – nes Heidi s’n – in verskillende kleure geverf. Pienk, oranje, pers, groen… “Jelly tots-tone,” glimlag Heidi.
Sy kyk weer na die bedding in herinnering aanQuintin. “Hy het nie vyande gehad nie. Ek weet nie wie so iets sou wou doen nie.” Sy vra dat diegene wat die plante uithaal, asseblief sal ophou. “Ek sal self vir hulle van die plante gaan koop as hulle dit so graag wil hê. Hulle kan my by 082-578-5869 skakel,” pleit sy.
Intussen is die bedding vol krisante geplant wat pragtig blom in allerlei kleure. Simbolies van Heidi se hartseer, maar ook van die onfeilbare liefde wat sy vir haar kinders het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button