CrimeNewsUpdate

Man uit hospitaal ontslaan na aanranding

Sy hospitaalrekeninge beloop honderde duisende rande

NELSPRUIT – Mnr. Johan (Panner) Cronjé wat vroeg verlede maand deur ‘n mede-eienaar van die ontkleeklub, Tango Blue, aangerand is, is hierdie week uit die hospitaal ontslaan.
Laevelder het onlangs berig hoe Cronjé deur mnr. Cat Smit by die Engen-vulstasie op die R40 by the Grove aangerand is. Videogrepe van die voorval is op Looklocal gelaai en is al meer as 10 000 keer deur lesers gekyk.
Smit het nie die aanranding ontken nie, maar by monde van sy regsverteenwoordiger gesê dat dit nie “onregmatig” was nie. Hy het beweer dat Cronjé daardie aand by die klub gekuier en ‘n rekening van R4 500 opgejaag het voordat hy daar weg is sonder om te betaal.
Cronjé kan egter nie alles van daardie aand onthou nie. Hy kan wel onthou dat hy eers by Marlins-visvangklub was en daarna Tango Blue toe gegaan het. “Ek was daar vir ‘n halfuur. Ek het vir my en vier ander ouens elkeen ‘n drankie gekoop en kontant daarvoor betaal voordat ek gery het. Toe is ek na die casino.”
Hy was 31 dae in Mediclinic Nelspruit se intensiewe sorgeenheid en twee dae in hoësorg voordat hy ontslaan is. Hy het 15 kilogram in dié tyd verloor. Rekeninge vir slegs fisioterapie, bloedtoetse en X-strale beloop reeds R152 000.
Cronjé het sy dank teenoor ds. Marius van die NG Westergloed-gemeente en Johan du Preez en Amelia Petite van Geanker in Christus uitgespreek vir hulle ondersteuning. “Ek wil baie dankie sê vir almal se gebede en goeie wense en dié wat teen my is, is geregtig op hulle opinie.”
Smit en sy meisie, me. Carmen Brown, moet weer op 6 September in die hof op klagtes van poging tot moord en aanranding verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button