NGODWANA – Daar is nog geen spoor van ‘n rekenmeester van Gauteng wat Saterdag onder vreemde omstandighede verdwyn het nie. Niemand het me. Angela Michaels (38) teen druktyd as vermis aangemeld nie.
‘n Ingeligte bron het aan Laevelder vertel dat ‘n man Saterdag omstreeks 11:00 by ‘n treinspoor gewag het vir ‘n trein om verby te kom. Hy het toe ‘n vrou in ‘n voertuig daar naby opgemerk. Sy het uitgeklim, verskeie items uitgehaal, op die grond gegooi en dit aan die brand gesteek.
“‘n Man wat daar naby gestaan het, het gesien dat sy selfs geld aan die brand steek en haar gevra om dit eerder vir hom te gee,” het die bron vertel. ‘n Tweede man wat verby gery en gesien het hoe dié twee argumenteer, het gestop en nader gestaan.
“Die vrou het toe twee sakke geneem en in ‘n nabygeleë plantasie verdwyn. Daar word vermoed dat sy die bosse ook aan die brand gesteek het,” het die bron gesê. Die mans het haar optrede vreemd gevind en die polisie in kennis gestel. Beamptes het opgedaag en na haar begin soek en later die hulp van die honde-eenheid ingeroep.
Lede van Off Road Rescue Unit het die volgende dag ook met die soektog gehelp. “Hulle het glo haar spoor gekry waar dit deur Elandsfonteinspruit geloop het en terug. Daar was ook sprake dat haar spoor op ‘n grondpad gekry is en later by ‘n teerpad ophou,” het die bron vertel. ‘n Soektog Maandag vanuit ‘n polisiehelikopter het ook niks opgelewer nie. Michaels se lisensie is op die toneel gekry en daar is later vasgestel dat sy met ‘n motor gery het wat by OR Tambo Internasionale Lughawe gehuur is. Van die goed wat sy aan die brand gesteek het, sluit ‘n skootrekenaar, haardroër en ‘n nuwe beginpaket vir ‘n selfoon, in.
“Daar was ook ‘n vliegkaartjie na Dublin,” het die bron gesê. Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dat ‘n broer van Michaels die ondersoekbeampte sou kom sien het en hopelik meer lig op die saak sou kon werp.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.