CrimeLocal newsNewsNews

Nou wat het van Bingelela geword?

NELSPRUIT – Bruide sit met hul hande in hul hare nadat hul trou-venue sonder hulle medewete sy deure gesluit het. Me. Aletia de Beer het onraad vermoed toe haar kommunikasie met Bingelela Lifestyle and Conference Centre al hoe minder begin raak het en die fynskrif op die besigheid se briefhoofde skielik verander het. “Ons was …

NELSPRUIT – Bruide sit met hul hande in hul hare nadat hul trou-venue sonder hulle medewete sy deure gesluit het.

Me. Aletia de Beer het onraad vermoed toe haar kommunikasie met Bingelela Lifestyle and Conference Centre al hoe minder begin raak het en die fynskrif op die besigheid se briefhoofde skielik verander het. “Ons was veronderstel om op

10 Augustus by Bingelela te trou,” vertel

De Beer. Op twee onderskeie fakture wat op 8 Oktober 2012 aan haar gestuur is, verskil die fynskrif wat deel van Bingelela se bankbesonderhede uitmaak. Nadat veranderinge op haar versoek aangebring is, verskyn die woorde “no refunds on amounts paid” onder die onderneming se bankbesonderhede op die tweede faktuur. “Ek het dit vreemd gevind, maar nooit gedink dat ons deur al hierdie drama sou moes gaan nie,” het sy ontsteld aan Laevelder gesê.

Egpaar mnr. Isak en me. Charlotte Bester het dié venue, wat aan mnr. Robbie en

me. Debbie Amos behoort, bestuur. “Hulle het oornag verdwyn,” vertel mnr. Amos.

Die Besters het De Beer in kennis gestel dat Nou’s Toeka die aanbieding sou oorneem, aangesien hulle nie meer kon nie.

“Hulle het geen rede verskaf nie en net gesê dat ek een van ses bruide is wie se funksie geskuif het,” vertel sy.

Sy het Nou’s Toeka gekontak om haar troudag te bevestig en tot haar skok uitgevind dat haar deposito van R10 000 nooit aan hulle oorbetaal is nie. “Dis toe dat ek begin het om op hulle nekke te lê om my geld terug te kry. En wat van die ander bruide? Weet hulle ooit dat Bingelela nie meer hul troues gaan aanbied nie? As ek nie aan húlle gekarring het nie, sou hulle my ooit laat weet het?”

De Beer het uiteindelik op 27 Julie haar deposito van mnr. Bester ontvang, nadat sy op 15 Julie ‘n brief van hulle gekry het, wat onder andere gelui het:

“Hiermee bevestig ons dat ons ‘n betaling van R10 000 van u ontvang het vir administratiewe kostes, waarvan R5 000 voor die aanbieding van die troue betaal moet word.

“Ons bevestig verder dat dit onmoontlik geraak het vir Bingelela om u troue aan te bied, as gevolg van die kotrakbreuk deur die eienaar van die perseel, by wie ons huur. Ons het daarom met Nou’s Toeka ooreengekom om die aanbieding van jul troufunksie oor te neem, met die vereiste dat julle die balans sal vereffen waartoe julle ingestem het.” In hiérdie brief het die Besters gesê dat Nou’s Toeka ‘n verdere

R13 000 van De Beer verlang. “Al is ons ingelig dat ons geen verpligting het om dit te doen nie, ondanks ons ooreenkoms met Nou’s Toeka, het ons besluit om bloot as ‘n manier om ons goeie naam te behou en sonder om enige aanspreeklikheid te aanvaar, u administratiewe fooi van

R10 000 terug te betaal, op voorwaarde dat u per e-pos:

• bevestig dat die uitbetaling van die

R10 000 alle eise en geskilpunte tussen ons en u finaal sal skik

• onderneem om aan geen media-instelling te rapporteer dat ons nie ons kant van die ooreenkoms nagekom het nie, of enige kriminele klagte teen ons by die SAPD sal lê nie.”

“Ek is net so dankbaar dat ons ons geld teruggekry het,” vertel De Beer verlig, “en dat Nou’s Toeka ons met die kostes kan tegemoedkom. Hulle is soos engele oor ons pad gestuur.” Mnr. Amos meen dat daar geen geval van kontrakbreuk tussen hulle en die Besters bestaan nie, maar dat laasgenoemde net verdwyn het – vermoedelik na Mosambiek – maar dat hulle ‘n seun het wat steeds in Nelspruit woonagtig is.

Laevelder het verskeie kere sonder sukses probeer om die Besters te kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button