CrimeNews

Minister van polisie moet opdok, beslis hof

'n Voorlopige beraming van skade gely is meer as R800 000

NELSPRUIT – Die minister van polisie sal moet opdok nadat ‘n man in 2011 deur lede van die plaaslike taktiese reaksie-eenheid met rubberkoeëls geskiet is.

Dié bevel is Woensdag in die hooggeregs- hof in Pretoria uitgereik.  Die regter het gelas dat die minister 100% aanspreeklik is vir die skade wat die eiser, mnr. Jan Coetzee (39),  kan bewys.

Hofverrigtinge om die omvang van sy skade te bepaal, is onbepaald uitgestel. Hy eis R878 000 – ‘n geraamde bedrag van die skade wat hy gely het.

Die berugte TRT (in Engels bekend as die Tactical Response Team) was in 2011 pal in die nuus oor hulle skynbare vergrype aan mag. Laevelder het toe nog berig hoe hulle op 12 Februarie daardie jaar op Coetzee se skoonpa, mnr. Hennie van Zyl, se eiendom toegeslaan en Coetzee só voos geskiet het, dat hy vier dae in die hospitaal moes deurbring.

Hy was ten tye van die voorval by Mat’s Tow-In as ‘n insleep-operateur werksaam. ‘n Voormalige kollega, mnr. Gielie Loots, het vroeg daardie oggend op Van Zyl se plot, Gomgat, aangekom en een van Mat’s Tow-In se voertuie daar geparkeer. Dit is gedoen sonder Van Zyl se toestemming en Coetzee het hom later geskakel en versoek om die voertuig te verwyder.

Loots het eers laatmiddag teruggekeer, maar Van Zyl het grappenderwys gesê dat hy nie die voertuig aan hom sou teruggee voordat hy nie ‘n fooi vir die stoor daarvan  betaal het nie. ‘n Woordewisseling het tussen hulle ontstaan.

Volgens ‘n beëdigde verklaring deur Coetzee wat by die hof ingedien is, was hy nie deel van dié gesprek nie en was besig om vleis te braai. Loots het mnr. Roy Mdhluli, eienaar van Mat’s Tow-In, in kennis gestel en hulle het ‘n klag van diefstal by die polisiestasie gaan lê.

Mdhluli en ene AO Sithole het toe later by Gomgat opgedaag. Hy het na beide partye geluister en besluit dat dit ‘n siviele saak was wat hulle self moes oplos.  Mdhluli het destyds self teenoor Laevelder erken dat hy hierna die adjunkprovinsiale kommissaris, maj.genl. Thembi Hadebe geskakel het, waarna lede van die eenheid na Van Zyl se plot is.

Die voertuig was in ‘n motorhuis toegesluit en ‘n lid van die TRT het die slot gebreek.  Coetzee het gevra of hulle ‘n  lasbrief gehad het, waarop hulle op hom begin skiet het.

“Die lede het my van voor af geskiet en toe ek omdraai as gevolg van die pyn op die voorkant van my lyf het hulle aangehou om my te skiet.  Een van die TRT-lede het my op ‘n kort afstand in die agterkant van my linkerknie geskiet,” lees Coetzee se verklaring.

Hy is polisiestasie toe geneem waar hy verder aangerand is. “Ek is direk na die Nelspruit-polisiestasie geneem. Toe hulle my uit die vangwa uithaal, het die TRT-lede weer begin om my te slaan en te skop en die heeltyd vir my geskreeu dat ek ‘n white bastard is,” lees sy verklaring verder.

Hy is later na Rob Ferreira Hospitaal geneem waar hy geopereer is en selfs ‘n bloedoortapping moes kry.  Hy is tot vandag toe nooit krimineel in verband met die voorval aangekla nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button