NELSPRUIT – Vyf inwoners het die week besef hoe onveilig dit is om na die stadsliggies te gaan kyk vanaf een van die stad se bekendste landmerke – die sokkerbal.
Volgens mnr. Vernon Lancaster van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, is twee groepe onderskeidelik Dinsdag- en Woensdagaand hier van hul besitting beroof.
“Die mense gaan in die aand om na die dorp se liggies te kyk, en as hulle weer sien is daar twee gewapende verdagtes wat hulle verras en dan beroof van selfone, beursies en juwele,” sê hy en voeg by dat beide die sokkerbal sowel as die opgaardam hoër op vermy moet word. Die eerste voorval het omstreeks 20:00 plaasgevind en die een op Woensdagaand net na 21:00.
‘n Voertuig wat vermoedelik gekoppel is aan die rooftogte, ‘n swart VW sedan, is net na 21:00 langs die R40 na Barberton deur ‘n lid van die Maggiesdal Buurtwag opgemerk. Hy het sy motor gestop om ondersoek in te stel aangesien twee mans besig was om die nommerplate van die voertuig af te haal. Drie skote is op hom gevuur en die verdagtes het weggejaag.
Die voertuig is kort hierna opgemerk op pad na Kaaspsehoop deur Hi-Tech beamptes en mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice het die voertuig agtervolg tot by Ngodwana waarna die verdagtes van die pad getrek het en in die bos in gehardloop. Die polisie se blitspatrollie onder leiding van kpt. Pieter Smit was ook op die toneel en het die pad afgesper. Geen arrestasies is gemaak nie.