Ongelukkigheid oor onderhoud-hof
Verskeie vroue ondervind baie frustrasies om onderhoud vir hul kinders van dié se pa's se ontvang.

NELSPRUIT – Vroue se enigste uitweg om onderhoud vir hul kinders uit hulle pa’s te kry, is nie noodwendig die beste nie. Laevelder is die afgelope ruk met klagtes van vroue oorval wat hulself uit desperaatheid na die koerant wend. Hulle voel hulle kry geen hulp van die hof wanneer hul kinders se pa’s nalaat om onderhoud te betaal nie.
Anette* sê sy was vir ses jaar in ‘n verhouding met Gary*. Hulle is in 2008, kort na die geboorte van hul seun, uitmekaar. Sy het vir werk Kaap toe getrek en Gary in 2009 hof toe gevat vir onderhoud.
“Ons het bereken dat ek R6 000 per maand benodig om na my kind om te sien. Die hof het hom gevra of hy die helfte kan betaal, en hy het daartoe ingestem,” het sy vertel. Anette het in April 2001 glo laas R3 000 van hom ontvang. Soms betaal hy die volle bedrag, en soms meer maar soms ook minder. Sy voer ook aan dat sy Mediclinic Nelspruit nog amper R16 000 skuld vir haar bevalling vyf jaar gelede.
“My kind ly aan asma en kort spesiale versorging,” het sy verduidelik. “Gary skuld my nou al R92 000 in agterstallige onderhoud.”
Sy het hom intussen by die gereg aangegee en hy is glo al ten minste drie keer gearresteer, maar word elke keer weer vrygelaat sonder dat hy onderhoud betaal. Gary betaal glo nie omdat hy sê hy nie geld het nie en boonop nie sy kind sien nie. Albei is intussen weer getroud.
“Ek is bereid dat hy ons kind sien, maar ek wil he hy moet himself eers bewys en onderhoud betaal,” het Anette gesê. Hy bel nie eens meer met sy seun se verjaarsdag nie en is bereid om hom af te teken.”
Anette is ongelukkig nie alleen in haar onsuksesvolle pogins om onderhoud deur die howe te probeer verhaal nie. Roline* het aanvanklik nie onderhoud geëis toe sy en haar man, Martin*, geskei is nie. “Ek het my eie onderneming gehad en dit nie nodig gehad nie, maar dinge het verander en nou het ek. Die hof is so ongeorganiseerd.
Die dae wanneer haar eks egter by die hof opgedaag het, was hul saak nie op die rol nie. Dit het glo twee keer gebeur en die derde keer het hy nie opgedaag nie.
Haar kollega, Jenny, se eks woon in ‘n ander dorp. “Hy sien die kinders, en sal wanneer hulle by hom kuier minder onderhoud betaal omdat hy hulle dan versorg,” het sy vertel. “Ek het skoolgeld en buitemuurse aktiwiteite om te betaal. Ek koop hulle klere. Die geld is nie vir my nie, maar vir hulle.”
Sy vind egter glo dat die balju haar dagvaardigings nie op hom kan beteken nie, want hulle vind hom nie by die huis nie. “Hulle het ook sy selfoonnommer, maar verwag ek moet namens hulle uitvind waar hy werk,” het sy gesê.
Volgens mnr. Riaan Bell, ‘n prokureur by Du Toit-Smuts & Mathews Phosa wat gereeld met onderhoud-verwante sake werk, ondervind hy geen dergelike porbleme met die hof nie. “As ‘n mens reg met hulle werk, is dit maklik,” het hy gesê. “Ek sukkel nie om bevele uit hulle te kry nie.”
*Skuilname is gebruik om die minderjarige kinders se identiteite te beskerm.
