Mbombela-vrou gekoppel aan beweerde miljoene-verduistering by mark
’n Voormalige Nelspruit Nasionale Varsproduktemark-kassier verskyn in die hof oor beweerde R5,2 miljoen-verduistering.
’n Voormalige kassier van die Nelspruit Nasionale Varsproduktemark (Whoopi Up), wat daarvan verdink word dat sy meer as R1 miljoen van haar werkgewer gesteel het, het dié week weer in die hof in Mbombela verskyn.
Sowat R1,1 miljoen moontlik verduister
Amanda Fourie (67) word daarvan verdink dat sy tussen November 2023 en Mei 2024 sowat R1,1 miljoen van die mark verduister het.
LEES OOK: Former cashier allegedly steals millions from fresh produce market
Die saak is Maandag, 8 Junie, weer vir verdere ondersoek uitgestel nadat sy haarself by die hof aangemeld het.

Volgens die mark se eienaar, Derek Bouwer, het die beweerde diefstal in Junie 2024 aan die lig gekom toe Fourie glo met R10 000 kontant in haar handsak betrap is.
Bouwer het destyds aan Laevelder gesê die eerste aanduiding dat geld moontlik by die mark verdwyn, was toe ’n markagent, Carlo Neto, en Fourie besig was om die dag se verkope te balanseer.
Geld glo in handsak gevind
Neto het glo opgemerk dat daar net R7 000 kontant in die kasregister was, hoewel hy vroeër die dag teenwoordig was toe ’n kliënt R17 000 kontant vir goedere betaal het.
Aanvanklik het Fourie na bewering ontken dat sy enigiets van die ontbrekende R10 000 weet. Volgens Bouwer het Neto haar toe gevra om haar handsak oop te maak. Die geld is glo daarin gevind.
“Sy het toe erken sy het kontant gevat,” sê Bouwer.
Die saak is by die polisie aanhangig gemaak.
’n Daaropvolgende oudit het volgens Bouwer aan die lig gebring dat Fourie moontlik binne ses maande sowat R1,1 miljoen verduister het.
Tydens haar dissiplinêre verhoor, wat deur LabourNet-konsultante behartig is, het sy na bewering erken dat sy geld geneem het en ’n skuldrekenning onderteken.
Fourie in hegtenis geneem
Fourie is in die vroeë oggendure van 5 Julie 2024 by haar woning in West Acres in hegtenis geneem.
Sy is egter destyds nie aangekla nie nadat die staatsaanklaer die dossier vir verdere ondersoek na die polisie terugverwys het.
Sy het Maandag, 8 Junie, self by die hof in Mbombela aangemeld. Ook dié keer is sy nie aangekla nie en die saak is weer vir verdere ondersoek tot 15 Julie uitgestel.
Bouwer het ná die hofverskyning gesê die staat gaan probeer bewys dat Fourie moontlik sowat R5,2 miljoen gesteel het gedurende die 980 dae wat sy by die mark werksaam was.
LEES OOK: Mpumalanga fresh produce market ‘a white elephant’ – DA spokesperson
Fourie het teen die publisering van hierdie berig nog nie op navrae om kommentaar gereageer nie.