Gemeenskap stroom saam vir suksesvolle Katoen-opedag
Die Katoen-inwoners voel weer geliefd ná die gemeenskap se ondersteuning
As die gesigte van die inwoners van Katoen Uitreik Sondag kon praat, sou dit hoofstuk ná hoofstuk van genade en dankbaarheid vertel het. Inwoners het weer menswaardig en raakgesien gevoel.
Daarbenewens het die belangstelling van die breër gemeenskap ook bygedra tot die geleidelike herstel van hulle menswaardigheid.
’n Besoek het elke inwoner spesiaal, geliefd en waardeer laat voel.
LEES OOK: Ruim skenkings laat Katoen se water nou vinniger kook
Katoen Uitreik het Sondag tussen 12:00 en 15:00 ’n opedag aangebied in samewerking met Swiss4Afrika.
Gemeenskapsbetrokkenheid word bevorder
Die doel was om besoekers ’n blik te gee op hoe Katoen individue prakties ondersteun, asook gemeenskapsbetrokkenheid bevorder.
Die idee vir die opedag het ontstaan ná ’n besoek vroeër vanjaar deur Laevelder, toe die eerste saadjie vir die inisiatief geplant is.
LEES OOK: VIDEO: Katoen – ‘n skuiling en gemeenskap van hoop
Katoen Uitreik en Swiss4Afrika het hande gevat, en dié saadjie het Sondag suksesvol ontkiem.
Daar was heerlike verversings soos kerrie en rys en oliebolle om aan te smul. Die snuisterye, wat deur inwoners self gemaak is, het vinnig van die rakke verdwyn.
Gaste kon die tuine, groentetuin, biblioteek en kleuterskool besigtig.
Die groot hoeveelheid skenkings en vars vrugte wat ingestroom het, het getuig van die dag se sukses. Willemien Reynecke, wat die toevlugsoord vir haweloses bestuur, het aangedui dat die opedag moontlik ’n jaarlikse instelling kan word.

Vol lof
Pastoor Vicky Dene-Ze Scheepers het vol lof oor die dag met Laevelder gesels.
“God is hier teenwoordig en Sy gees groei elke dag meer in elke inwoner van Katoen. Die mense groei, die groente groei – dit is stunning en so cool. Dit wys op die inwoners se gesigte,” het Scheepers gesê.
Volgens haar speel besoeke aan Katoen ’n belangrike rol in die bevordering van sosiale en emosionele welstand.

Jacques Lombard en sy hele Mevrou Mpumalanga-span was ook teenwoordig.
“Ek sê altyd vir my deelnemers: of jy nou ’n huidige of voormalige titelhouer is, as jy hier iets nalaat, word dit deel van die legacy wat jy vir die inwoners agterlaat,” het Lombard gesê.

Hy het ook mense aangemoedig om met hom in verbinding te tree indien hulle nie self skenkings kan aflewer nie.
“Hulle kan enige tyd deur die Mpumalanga4U Foundation werk, waarvan ek ’n direkteur is,” het hy bygevoeg.
Dag ‘n groot sukses
Reynecke sê die dag was ’n groot sukses en dat toekomstige planne daarop fokus om Katoen verder te verbeter en inwoners vaardighede en ambagte te leer.
Katoen Uitreik het hul dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die sukses van die dag, onder wie Brian Ring, Jacques Lombard, Zhane Botha en die Mevrou Mpumalanga-span, Randal van Heerden (Swiss4Afrika), Adriaan van den Berg en alle ander ondersteuners.
Skenkings het ingestroom, veral klere, komberse en kos.
Reynecke se boodskap aan al die besoekers is een van groot dankbaarheid.
“Die publiek het nou ’n beter begrip van hoe Katoen werk en waaroor die organisasie gaan.”
Katoen se wenslysie sluit in skoolbehoeftes, gas, petrol, dakverf, wasgoedlyne, tuingereedskap, toiletpapier, groentesaad, ’n speelparkie en houtwerksentrum-gereedskap.
Vir meer besonderhede, skakel Reynecke by 079 290 7094.












