Plaaslike kortfilm met ope arms by fees ontvang
Die kortfilm, wat plaaslik verfilm is, het Woensdag by die Silwerskerm Rolprentfees begin draai.
NELSPRUIT – ‘n Kortfilm wat onlangs in die Laeveld verfilm is, is Woensdag met groot genot deur Silwerskerm-feesgangers ontvang.
Damduikers, dié Damduikers het die aand sy debuut gemaak as een van KykNet se finaliste in ‘n kortfilmkompetisie by die jaarlikse filmfees wat in die Kampsbaai plaasvind.
“Die première was baie goed ontvang. Daar was verskeie grootname in die gehoor gewees en hulle was vol lof vir die produksie,” vertel Sandra Jacobs van Innibos, wie se seun, Francois, nie net in die film te sien is nie, maar ook deel was van die skrywerkorps.
“Verskeie van KykNet se mense het ook genoem dat dit maklik is om te vergeet hoe jonk en onervare die produksiespan eintlik is,” vertel sy trots.
Regardt van den Berg was onder die honderdes in die gehoor en het laggend vertel dat “dit baie goed gedoen is.”
Die finaliste se kortfilms word gedurende hierdie week herhaaldelik by die fees vertoon en Vrydagaand word die wenners aangekondig.
Die kortfilm is deur Adriaan van As, Francois Joubert en Christien le Roux geskryf – Van As en Joubert is albei ou-Nelspruiters wat in Johannesburg woon. Al drie die skrywers is ook in die film te sien.

“Ons is baie trots om vanuit meer as ‘n duisend draaiboeke as finalis gekies te word,” het Van As vertel tydens verfilming by die Oval-Track net buite Nelspruit, “en ons is regtig bevoorreg om die legendariese Gerhard van Rooyen as direkteur van produksie te hê.”
Van Rooyen is bekend vir sy produksies deur Spheratical Productions, hoofsaaklik vanweë sy vele musiekvideos wat vir Tempo-toekennings benoem is, insluitende die Ghoema-video van die jaar, “‘n Vrou wil dit hoor” deur Bobby van Jaarsveld.
Oupa Fieta (vertolk deur Albert Maritz) woon al jare langs Vygeboomdam – tot sy Yuppie-bure se frustrasie lei hy ‘n eenvoudige bestaan. Dit versuur hul uitsig oor die prentjiemooi dam darem baie.
Die jong bure probeer hul bes om Oupa Fieta se eiendom te koop en bied miljoene vir sy ou erfie aan, maar hy wil niks weet nie.
Joubert vertolk die rol van Double Clutch Fieta, Le Roux sy suster, Sarie, en Van As sy broer, Fanny. Groot name soos Ciske Kruger is as deel van die Yuppy-familie te sien – Ciske speel Mercedes, Viljé Maritz speel Brian en Eben Groenewald vertolk die rol van Rian.
Kyk die voorprent van die film hier:

