EntertainmentLifestyleLocal newsNewsNews

Phillip is die nuutste lid van Cortina, die Afrikaanse pop groep

Phillip Snhnetler is die nuutste lid van die pop musiek groep, Cortina

BURGERSFORT – Meeste mense sal vir Phillip Schnetler as die jong, behulpsame blondekopseuntjie wat altyd geglimlag het, onthou maar vandag staan hy as ‘n lid van die Afrikaanse popgroep, Cortina bekend.

Sy profiel op Viclectic Artist Management se webtuiste beskryf hom as ‘n passievolle en veelsydige kunstenaar. Phillip het sy liefde vir die verhoog ontdek nadat hy in die kerkkoor en skoolrevue opgetree het.

In 2007 het hy sy provinsiale en nasionale kleure as akrobaat verwerf en besluit om meer oor die uitvoerende kunste te leer. In 2008 het hy sy maktriek by Hoërskool Lydenburg geslaag. Dit is toe dat hy besluit het om musiekteater aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie te studeer en het in 2011 ‘n nasionale diploma verwerf.

“Terwyl ek geswot het, was ek in produksies soos Rent, Parade, Spring Awakening en my eerste professionele produksie, Ester the Musical. Dit is waar wat hulle sê, jou studentelewe is jou lekkerste jare,” sê Phillip.

Aan die begin van 2013 het hy ‘n oudisie gedoen om deel van die Afrikaanse popgroep, Cortina te word. Danie Putter, Debré Rossouw, Rojean Serek en Phillip is die ander lede. Kort daarna het hierdie band hul eerste musiekvideo vir hul titelsnit “La La La” opgeneem en ‘n onderhoud op the gewilde musiekprogram Jukebox gehad.

“My lekkerste ervaring was toe ons die musiek video geskiet het. Alles het vlot verloop en dit is ‘n voorreg om saam professionele mense te werk. Elke opterede as deel van Cortina is vir my ‘n ongelooflike ervaring,” sê Phillip.

Tans deel hy ‘n huis met twee vriende in Roodepoort. “Ons het ‘n pragtige uitsig oor Johannesburg. Dit is lekker sentraal geleë en maak dit maklik om oudisies en sosiale verpligtinge by te woon,” vertel hy.

Sy CV is baie indrukwekkend, “Ek was in Jesus die Musiekblyspel en so ‘n paar maande gelede in die Seychelles met ‘n tribute show en het met ‘n goeie tan terug Suid-Afrika toe gekom. In Oktober is ek deel van die Deon Opperman produksie, Ons vir Jou in Kaapstad. Ek was ook in die Vodacom-advertensie vir die Super 14, en het op die kinderteaterverhoog met Annie JNR en The Purr Factory ‘n draai gemaak. Ek is nou besig met ‘n opvoedkundige teaterproduksie wat regoor die land toer.”

Toe Steelburger/Lydenburg Nuus vir Phillip vra wat hy die graagste in die lewe wil doen, antwoord hy: “Ek wil baie graag nog Wicked, die musikale opvoering in New York gaan kyk en ek wens die band kan by Afrikaans is groot optree. Ek wil genoeg geld maak om vir my ma ‘n huisie in Knysna te koop, ek wil in ‘n fliek saam met Lea Michele wees en in ‘n musikale blyspel op Broadway wees.”

Phillip sê hy wil groete vir almal in die omgewing stuur. “My familie en vriende is my grootste ondersteuners en ek kry baie boodskappe van mense in die Nelspruit-omgewing om te hoor wanneer ons in die platteland gaan optree. Ons sal julle definitief op hoogte hou as ons in die omgewing is. Rojean wat saam met my in Cortina is, kom self van Nelspruit af.”

Om meer van Phillip en Cortina te sien, kan mense hul webwerf www.cortinapop.co.za besoek. Vir besprekings, kontak www.thesixthsense.co.za

Cortina het ook ‘n Facebook-blad genaamd CortinaPop en hul nuwe musiekvideo kan op YouTube gesien word.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button