NELSPRUIT – Die inwoners van ‘n huis in Maggiesdal wat onlangs ‘n uitsettingskennisgewing ontvang het, ontken dat ‘n waardeerder die huis ondersoek het.
Me. Jossie Maree, wat saam met haar kinders, kleinkind en skoonseun, mnr. Pieter Kruger, in een van dié huise woon, het op 9 Augustus ‘n kennisgewing ontvang wat die huis as onveilig vir menslike bewoning beskryf. Dit is deur die munisipale bestuurder, Mr Xolani Mzobe, onderteken.
Volgens die kennisgewing, is die rede vir die beëindiging van die huurooreenkoms dat die strukturele toestand of gebrekke van die huis dit nie meer aanvaarbaar maak vir menslike gebruik nie, en dat dit daarom algehele sloping verg.
“Op hierdie stadium het die stadsraad nie die begroting toegeken vir die oprigting van ‘n nuwe struktuur nie en dus is die enigste alternatief om die kontrak te beëindig om enige uitdagings te vermy,” lees die kennisgewing.
Die inwoners het tot 9 November om uit die huis te trek. Geeneen van die ander huurders het tot dusver soortgelyke kennisgewings ontvang nie.
Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder van Mbombela-munisipaliteit, het verduidelik dat ‘n pakhuis wat teenaan die huis gebou is, besig is om te sak en die struktuur
onstabiel maak. Hy was teen druktyd nog nie in staat om die waardeerder se verslag wat die huis afkeur, aan die koerant verskaf nie.
Mnr. Martien Roberts, een van die opsigters by Maggiesdal wat na dié huis kyk, is raadop. Volgens hom is die Kruger-huishouding agterstallig met hul huur. “Hulle het net die deposito en eerste maand se huur betaal,” het hy gesê. “As hulle dié maand weer nie betaal nie, sal hulle R10 000 skuld.”
Maree het dit bevestig. “Waarvoor moet ons betaal?” het sy gevra. “Ons woon in ‘n afgekeurde huis. Wie sê dit sal nie voor ons sperdatum om uit te trek op ons koppe val nie?” Die munisipaliteit is besig met ‘n opname van al hul eiendomme op die Maggiesdal-plaas, maar nuwe huurkontrakte is nog nie opgestel nie en die voriges geld daarom nog. Hiervolgens moet die Krugers maandeliks glo R2 000 betaal.
Mnr. Joseph Sithole, senior bestuurder van die munisipaliteit se behuisingsdepartement, kon nie vir kommentaar bereik word nie.