Grondverskuiwing lei tot noodmaatreëls.
STEELPOORT – Die nuwe jaar het nie vir almal op ‘n vrolike noot afgeskop toe grond teen die berghang by Lannex Myn verlede Vrydag begin verskuif het nie. Die algemene bestuurder van Samancor Eastern Chrome Mines, mnr. Emile Britz het ‘n onderhoud aan die koerant in dié bedrywige tyd toegestaan. Oor die menige gerugte wat …
STEELPOORT – Die nuwe jaar het nie vir almal op ‘n vrolike noot afgeskop toe grond teen die berghang by Lannex Myn verlede Vrydag begin verskuif het nie.
Die algemene bestuurder van Samancor Eastern Chrome Mines, mnr. Emile Britz het ‘n onderhoud aan die koerant in dié bedrywige tyd toegestaan. Oor die menige gerugte wat die rondte doen rakende die oorsaak van hierdie ramp verduidelik Britz dat die gebeurtenis nie as gevolg van mynbou-aktiwiteite in die omgewing plaasgevind het nie. Hy bestempel dit as ‘n natuurramp en vermoed dat dit ‘n direkte gevolg van 2013 se hoë reënval is.
Die oorsaak is wel nog nie vasgestel nie en mynbestuur het solank noodprosedures gevolg om die sekuriteit van inwoners in die mynbehuising onderkant die berg te verseker.
“Nadat grond teen die berghang begin skuif het, het mynbestuur besluit om inwoners van nege huise by Lannex Noord in ander tydelike verblyf te plaas. Kort hierna het twee klippe van ongeveer ‘n motor se grote die berg begin afrol,” vertel Britz.
“Die huise is ontruim omdat dit ‘n moontlike gevaar vir die inwoners ingehou het. Elektrisiteit- en watertoevoer is onderbreek, maar dit gaan so spoedig moontlik herstel word gegewe die veiligheid van personeel wat verantwoordelik is vir die herstel werk,” sê Britz.
Teen Dinsdag was toegang tot die woongebied streng verbied en mense mag slegs met toestemming die perseel betree het. “My mening is dat die huise nie in gevaar is nie. Slegs die drie huise naaste aan die berg kan moontlik beskadig word, maar om mense se veiligheid te verseker, word voorsorg getref,” sê Britz.
Vergaderings vind daagliks met inwoners plaas en inligting word so spoeding as moontlik versprei. Britz het aan Steelburger/Lydenburg nuus vertel dat alhoewel inwoners gretig is om terug te trek na hul wonings word die situasie gekontroleer en sal mense eers terugtrek as die situasie veilig verklaar word.
“Mynbestuur verskaf op die staduim etes aan gesinne wat deur die situasie geraak is en wil dit duidelik stel dat die veiligheid van die inwoners ‘n prioriteit is,” voeg Britz by.
Die mynbestuur is glo besig om die drie gesinne naaste aan die berg vir ses maande te verhuis terwyl die situasie gekontroleer word. Teen druk tyd was dit nog onseker of die oorblywende ses huis gesinne na na hul wonings sal terugtrek.
