Hard newsNewsNews

‘n Gat in die pad en sy bad daarin.

Me. Rosie Morrison, vrywillige onderwyseres by ‘n skool in Badfontein, het ‘n badtoneel in een van die gate uitgebeeld met die doel om wêreldwye bewusmaking van die swak pad te bevorder.

LYDENBURG – Dit blyk of dit nou nie net meer plaaslike inwoners is wat keelvol is vir die haglike toestand van die R36 nie, maar dat internasionale besoekers ook nou genoeg gehad het. Dit volg nadat ‘n onderwyseres van die Verenigde Nasies onlangs in ‘n skrapse bikini in een van die slaggate poseer het en dit sodoende in ‘n badgat verander het.

Me. Rosie Morrison, vrywillige onderwyseres by ‘n skool in Badfontein, het ‘n badtoneel in een van die gate uitgebeeld met die doel om wêreldwye bewusmaking van die swak pad te bevorder. Met ‘n glasie wyn, boek en selfs ‘n stortkeps op die kop is die foto deur me. Ali Botha, eienaar van Lydenrust Gasteplaas, geneem en op sosiale netwerke versprei, wat kort voor lank die aandag van duisende besoekers getrek het.

“Ons het nie gedink dit sou soveel reaksie ontlok nie, maar toe my foon gister onophoudelik begin lui en mense my van regoor die land kontak, het ek skielik besef dat wat ons as ‘n pretaktiwiteit beskou het, veel groter impak gehad,” vertel Botha met ‘n glimlag. Dit blyk egter of sy en Morrison nog nie klaar is met hul bewusmakingveldtog nie en sosiale media-verbruikers kan waarskynlik nóg kreatiewe konsepte te wagte wees.

“Dit is absolute twak dat News24 berig het dat daar nou skielik aksie geneem gaan word,” vertel Botha. “Die afgelope 10 jaar sou daar al aksie geneem word,” voeg sy by.

Die R36, beter bekend as die Bambi-pad tussen Machadodorp en Lydenburg, was die afgelope jaar waarskynlik die onderwerp wat inwoners in die Badfontein-omgewing en toeriste se bloed die meeste laat kook het.

Verskeie versoeke is gedurende 2013 aan die departement van openbare werke gerig, maar is geïgnoreer en ontstoke padverbruikers moes 2014 met onbeantwoorde vrae binnegaan.

Die jongste statistiek toon dat daar ‘n gemiddeld van 450 vragmotors, hoofsaaklik ertstrokke, daagliks op die 54km roete beweeg. Die pad is in die sestigerjare geteer en die gedeelte om die Kwenadam in die vroeë tagtigerjare.

Volgens Mpumalanga se Provinsiale Paaie Afdeling is die pad vir ‘n leeftyd van tussen 15 en 20 jaar ontwerp, met ‘n verkeerslas van hoogstens een miljoen agt ton asse vir hierdie tydperk. Met die huidige verkeersvolume en massa per trok, sal die gewaarborgde leeftyd maar slegs 317 dae wees.

Skole, verenigings en individue het sonder sukses menigde briewe aan die departement van publike werke gerig, waarin daar gepleit is om iets rondom die situasie te doen weens die gevaar waarin motoriste, voetgangers en veral skoolkinders verkeer – alles het egter op dowe ore geval.

Toe Steelburger/Lydenburg Nuus self antwoorde vereis, het die woordvoerder van die departement, mnr. Dumisani Malamule die foon onder andere in die middel van ‘n gesprek neergesit en kon niemand weer daarna bereik word nie; dít nadat dit flink gereageer het en boonop die koerant aangemoedig het om vrae te rig toe die ondersoek bekendgemaak is.

Daar is onder andere gevra of die departement die operasionele plan vir die afgelope 10 jaar kan voorhou nadat die koerant vertroulik verneem het dat daar gedurene dié tydperk wel vir opgradering aan die pad begroot is, maar dat dat daar niks van gekom het nie. Privaat-konsultantingenieurs is na bewering aangestel vir die ontwerp van die pad wat etlik derduisende rande beloop het, maar om welke redes is die tenders gekanselleer, het die koerant verneem.

Geen antwoorde op hierdie vrae kon egter verkry word nie. Dieselfde vrae, sowel as versoeke wat reeds in November deur verskeie laerskoolhoofde, onderwyseresse sowel as inwoners oor die kinders se veiligheid wat besorg is, aan die departement gestuur het, is vir ‘n tweede maal aan vier ander lede in die departement gestuur, en ook daarvan het niks gekom nie.

Toe Steelburger/Lydenburg Nuus die provinsiale verkeersafdeling nader om te hoor hoeveel boetes gedurende 2013 op die spesifieke pad uitgereik is, nadat klagtes ingestroom het en videomateriaal van onder andere roekelose bestuur verkry is, kon daar egter ook geen bewyse gelewer word nie.

Mnr. Amos Maroga, voorlopige inspekteurder, van dié departement in Lydenburg, voer aan dat dit egter te gevaarlik is om voertuie op die betrokke pad af te trek en dat daar veral nie net op swaarvoertuie gefokus kan word nie, aangesien dit volgens hom diskriminasie is.

Nog ‘n struikelblok wat verhoed dat boetes uitgeskryf word, is dat mense op die R36 mekaar inlig indien daar wel die dag verkeersbeamptes is, vertel Maroga. “Soms word daar agt uur op die pad spandeer sonder om ‘n enkele boete uit te reik, weens die feit dat mense mekaar daarvan inlig,” veduidelik hy.

Toe daar aan Maroga gevra is of die weegbrug gebruik word, het hy die volgende geantwoord: “Die weegbrug is nie ons verantwoordelikheid nie, maar dié van die departement van paaie en vervoer.” Hy het egter bygevoeg dat hy vroeër ‘n versoek aan laasgenoemde departement gerig het om die weegbrug volledig op te gradeer.

Mnr. Johannes Motsaledi van die departement van paaie en vervoer het Maandag bevestig dat dit steeds nie ‘n begroting of enige verdere inligting van die hoofkantoor ontvang het nie. Motsaledi het einde 2013 ‘n versoek gerig dat die pad dringend vir swaar vekeer gesluit moet word, weens die gevaar wat dit vir motoriste en voetgangers inhou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button